OUDTSHOORN NUUS - Twee leerders van De Rust Sekondêr het op 2 September die skool verteenwoordig tydens die amptelike bekendstelling van Oudtshoorn se Junior Town Council (JTC), ’n inisiatief wat jongmense blootstel aan plaaslike regering en hulle toerus met kennis en vaardighede om toekomstige leiers te word.
Daar is tien hoërskole in Oudtshoorn en daar word gepoog dat ten minste twee tot drie leerders per skool op die jeugraad dien.
Sekondêre skole wat die bekendstelling bygewoon het was Fzekile, Dysselsdorp, Môrester, Bridgton, De Rust, Protea, Van Reede Skool en Aurial College. Die bekendstelling het onder die tema, Young Voices, Bright Futures, Stronger Oudtshoorn, plaasgevind.
Melikah Vryburg (gr. 11A) en Jacqueline Komoetoe (gr. 9A) het De Rust Sekondêr by die geleentheid verteenwoordig. Hulle is deur Charno Cobus, ’n opvoeder aan die skool, vergesel.
Die JTC bied aan hoërskoolleerders ’n platform om meer oor plaaslike regering te leer, hul medeleerders te verteenwoordig en betrokke te raak by gemeenskapsuitreik- en liefdadigheidsprojekte.
Die JTC fokus op leierskap, etiek en burgerlike verantwoordelikheid eerder as partypolitiek.
Die program is gewoonlik op hoërskoolleerders, veral leerders in gr. 9 tot 11, gerig.
Deelnemers word volgens ’n keuringsproses, wat onder meer aansoeke, opstelle of onderhoude kan insluit, gekies. Leerders hierby betrokke kan raadsvergaderings bywoon, deelneem aan werkskadu-programme, hul perspektiewe deel oor jeugkwessies met munisipale leiers en help ook om plaaslike fondsinsamelings-en gemeenskapsprojekte te organiseer.
Die struktuur van junior rade is soortgelyk aan dié van munisipale rade en kan posisies soos ’n junior burgemeester, onderburgemeester en speaker, asook verskeie portefeuljes of komitees, insluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’