Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen die voormalige onderburgemeester van Oudtshoorn, Mlandeli Nyuka, wat tereg staan op ’n klagte van seksuele aanranding, is Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak tot komende Woensdag (8 November), uitgestel.
Die 41-jarige Nyuka, wat onskuldig pleit, het die wenkbroue laat lig toe hy tydens kruisondervraging deur die staatsaanklaer, Mervan Saaiman getuig het dat die klaer hom seks aangebied het in ruil vir wat hy alles vir haar doen.
Sy het glo aan hom gesê dat hy so goed is vir haar dat sy vir hom iets wil teruggee. Hy het teen die einde van die kruisondervraging ook gesê dat hy die enigste een is wat die waarheid praat en die klaer se getuienis alles leuens is
Saaiman het dit aan Nyuka gestel dat dit nuwe inligting is en wou weet waarom hy nie dit vir sy regsverteenwoordiger gesê het nie.
Voorts het Nyuka getuig dat hy die klaer se salaris uit sy sak betaal het en hy haar nooit betas het soos wat sy getuig het nie.
Nyuka word daarvan aangekla dat hy op 27 September 2022 die klaer in sy kantoor betas het, nadat hy die deure gesluit en haar die pos van kantuurbestuurder aangebied het.
Die vrou het getuig dat Nyuka haar die betrokke oggend na sy kantoor ontbied het, om glo oor partysake te praat. In plaas daarvan het hy toe haar rok opgetel en begin betas.
Sy het weggekom toe die telefoon in haar kantoor gelui en die beskuldigde dit gaan antwoord het.
Die staat vra die hof om Nyuka soos aangekla skuldig te bevind terwyl sy regsverteenwoordiger, Bian Carelse van die regshulpraad vir sy vryspraak vra omdat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla.
Vorige artikels:
- Raadslid Nyuka word borgtog geweier
- Onderburgemeester Nyuka steeds in aanhouding
- Burgemeester besorg oor ‘kwelpunte’ in voorbladberig
- Onderburgemeester Nyuka in tronk
- Burgemeester bewus van klagtes teen onderburgemeester Nyuka
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’