Update
OUDTSHOORN NUUS - Daar was hierdie week twee botsings met koedoes binne twee dae naby Oudtshoorn. Beide botsings het vroegoggend plaasgevind. In die eerste botsing Dinsdagoggend het 'n Nissan-bakkie met twee insittendes om ongeveer 07:00 'n jong koedoe-ooi tussen Oudtshoorn en Calitzdorp getref.
Die twee mans was vanaf Ladismith onderweg om 'n student wat per bus van Potchefstroom gekom het, in Oudtshoorn op te laai.
Behalwe vir 'n handbesering wat die bestuurder opgedoen het, was beide mans ongedeerd. Volgens die passasier in die bakkie het twee jong koedoes oor die heining langs die pad gespring.
Die bakkie het die eerste een getref.
Die bestuurder van die bakkie het 'n handbesering opgedoen nadat hy 'n jong koedoe tussen Calitzdorp en Oudthoorn getref het. Foto's: Hannes Visser
Skaars 24 uur later was daar nog 'n botsing met 'n koedoe. Hierdie keer op die Mosselbaai-pad.
Ben en Elsabe Kampfer was in 'n Ford Kuga van hulle vakansie in Hartenbos na hulle huis buite Upington onderweg toe hulle die koedoe net na 07:30 gisteroggend sowat 15 km buite Oudtshoorn by die Mount Hope afdraaipad getref het.
Volgens Kampfer het die koedoe tussen gras langs die pad uitgehardloop. "Ek het gerem, maar die koedoe getref. Die bok het op die enjinkap gelê en ek kon glad nie die pad sien nie. Gelukkig het daar nie ander motors aangekom nie, want ek het aan die anderkant van die pad tot stilstand gekom."
Die Oudtshoorn Courant het die nooddienste ontbied nadat 'n motoris op die botsing afgekom het en dit aangemeld het.
Alhoewel die egpaar nie beseer is nie het paramedici aanbeveel dat Elsabe 'n dokter raadpleeg nadat sy aangedui het dat haar nek seer is.
Ben Kampfer van Upington gesels met verkeersbeamptes nadat hy en sy vrou 'n koedoe ongeveer 15 km buite Oudtshoorn getref het. INLAS: Die koedoe-ooi wat deur die Kampfers se Kuga getref is.
Volgens beamptes op die toneel is botsings met koedoes uiters seldsaam op die Mosselbaai-pad.
"Ons het al 'n hele paar koedoe-ongelukke op die R62 in die rigting van Ladismith en ook op die pad tussen De Rust en Willowmore gehad. Hierdie is die eerste een op die Mosselbaai-pad waarvan ek weet," een van hulle gesê.
By beide botsing is Cango Wildlife Ranch deur CapeNture genader om die koedoekarkasse te verwyder.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'