OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn is die afgelope week diep geruk deur die dood van twee broers wat slegs vier dae uitmekaar oorlede is. Die dood van Richard Swart (42) Donderdagoggend, 19 Februarie, het die gemeenskap geskok, en net dae later, Dinsdagaand, is sy jonger broer, Corné Swart (36), ná 'n stryd teen kanker oorlede.
Richard, 'n bekende en geliefde inwoner en pa van twee seuns, is Donderdagaand in 'n motorfietsongeluk op die Safaripad dood. Sy skielike heengaan, gevolg deur Corné se dood enkele dae later, het die familie verpletter gelaat.
Hul suster, Bennedette Landman, sê die verlies is byna onbeskryflik.
"Ons is verpletter. Om twee broers in dieselfde week te verloor, is 'n pyn waarvoor 'n mens nooit regtig kan voorberei nie," sê sy.
Richard was die oudste van vier kinders. Corné was die jongste van die drie broers. Buiten Bennedette laat hulle ook hul broer Louis, hul pa Wessel Swart, en ma Magda Scholtz, agter.
Volgens Bennedette was Richard vir haar meer as net 'n broer.
"Hy was my rots, my anker en deel van wie ek is. Van gedeelde grappies tot stil ondersteuning het sy teenwoordigheid my wêreld gevorm. Noudat hy weg is, kies ek om die lewe wat hy geleef het en die band wat ons altyd sal deel, te eer. Hy het sy lewe met krag, humor en 'n groot hart geleef. Hy het die mooiste omgeehart gehad en sou sy laaste vir iemand anders gegee het. Sy grootste droom was om vir die Here te werk."
Bennedette vertel Corné was die stil, skaam een van die familie.
"Hy het nooit gekla nie. Hy het 'n groot hart gehad en altyd 'n grappie gehad om te vertel."
Richard het tot onlangs oorsee gewerk en was ten tyde van die ongeluk met vakansie in Oudtshoorn. Hy was agt jaar met Gherdea Swart getroud. Hulle seuntjie, Elijah Wehandré Swart, is vyf jaar oud. Sy oudste seun, Wessel, vier Vrydag sy 21ste verjaarsdag, 'n besondere mylpaal wat nou sonder sy pa gevier moet word.
Gherdea beskryf haar man as 'n opregte mens met 'n besondere gees.
"Ek sal altyd daardie mooi glimlag en uit-die-maag-uit lag onthou, sy glinsterende oë, sy terggees en sy omgeehart. Hy het my gewys wat ware, opregte liefde is. Die huis is stil en sy stem is stil, maar ek sal altyd na hom verlang en hom liefhê," sê sy.
In 'n briefie aan sy pa het klein Elijah geskryf hy weet sy pappa is by Liewe Jesus.
"Dankie dat pappa my altyd gevat het vir visvang en as ek wou bike ry het pappa altyd lekker vinnig gery, ek het daarvan gehou. Ek mis pappa baie en is baie lief vir pappa. Pappa is altyd in my hart."
Magda sê geen ouer behoort ooit 'n kind te begrawe nie.
"'n Ma se liefde vir haar seun is soos niks anders in die wêreld nie. Ons gaan hulle verskriklik mis."
Richard se begrafnis vind Sondag 1 Maart om 12:00 by die Klein-Karoo AGS-gemeente plaas. Reëlings vir Corné se begrafnis is nog nie bekendgemaak nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’