OUDTSHOORN NUUS - Die polisie ondersoek 'n klag van roekelose en nalatige bestuur nadat 'n motoris glo voor 'n polisievoertuig ingedraai en 'n botsing veroorsaak het.
Die botsing het Donderdag omstreeks 11:30 op die pad tussen Oudtshoorn en George plaasgevind.
Volgens 'n motoris, wat op die botsing afgekom het, het die bestuurder van 'n Land Rover Discovery op 'n draai van die pad afgetrek om skynbaar foto's te neem. Dit is nie duidelik of die bestuurder daarna 'n U-draai gemaak het of die pad op die blinde draai oorgesteek het nie, maar die Land Rover het reg voor 'n polisievoertuig beland wat om die draai gekom het.
Die polisievoertuig het die Land Rover agter op die regterkant getref waarna die Land Rover in die rondte getol het en langs die pad beland het.
Die polisievoertuig is links van die pad af en het teen 'n wal gebots. Een insittende van die Land Rover en 'n polisielid is per ambulans na 'n hospitaal in Oudtshoorn geneem, maar volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, was daar slegs ligte beserings opgedoen.
Die Land Rover Discovery nadat dit deur 'n aankomende polisievoertuig getref is.
Omstreeks 16:00 dieselfde middag is 'n Opel Corsa-bakkie van die Oudtshoorn-munisipaliteit ook ernstig beskadig toe dit in Langenhovenweg eers teen 'n Isuzu-bakkie en toe teen 'n muur gebots het.
LEES: Botsing by nog 'n berugte kruising
Volgens die bestuurder van die Isuzu-bakkie het hy vanuit Rademeyerstraat links in Langenhovenstraat ingedraai. Die Corsa-bakkie het vanaf die oorkant van die pad ook in Langenhovenweg ingedraai en die Isuzu getref. Die Corsa-bakkie het daarna 'n muur getref.
Niemand is in die botsing beseer nie.
Die munisipale bakkie wat eers 'n Isuzu (in die agtergrond) en daarna 'n muur getref het. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'