Update
OUDTSHOORN NUUS - Die borgtogaansoek van Magdaleen Titus is Woensdag vir uitspraak na volgende Donderdag uitgestel.
Titus word daarvan aangekla dat sy, saam met ander beskuldigdes haar man, Preston Titus, die nag van 1/2 Desember vermoor het.
Adv. Michelle Weyers, wat vir die staat optree, sowel as Joshua Greeff, wat vir Titus optree, het hul slotbetoë Woensdag aan die hof voorgelê.
Volgens Greeff het die staat nie 'n Prima Facie saak teen Titus nie, omdat hul saak grootliks op die bekentenis van Sixabiso Klip, die eerste verdagte wat reeds gevonnis is, gestaaf is.
Hy het verder gesê dat die selfoonrekords bloot aandui dat Titus die nag van die moord by haar woning in die weermagkamp was en dat dit nie beteken dat sy iets met die moord te doen gehad het nie.
Greeff het ook die beweerde motief vir die moord bevraagteken. Volgens hom was Klip die enigste persoon wat 'n motief gehad het om Preston te vermoor en het hy ook bygevoeg dat die ondersoekbeampte, ao. Martin le Roux, geen stawende getuienis kon lewer dat die motief vir die moorde enigstens iets met polisse te doen het nie.
Weyers het betoog dat die staat wel 'n Prima Facie saak het omdat daar WhatsApp-boodskappe van Natasha Stuurman, 'n mede-beskuldigde, is waarin sy aanvoer dat Titus die meesterbrein agter haar man se dood is.
Sy het verder gesê daar is ondermeer ook video-opnames en foto's wat hulle saak versterk.
Weyers het ook betoog dat die gemeenskap se belang swaar weeg in die saak omdat die persone wat die petisies teen borgtog vir Titus geteken het, nie net inwoners van Dysselsdorp en Oudtshoorn is nie.
Volgens haar kon die verdediging ook nie buitengewone omstandighede bewys dat Titus op borgtog vrygelaat moet word nie.
Weyers het verder klem gelê op die feit dat Titus wel 'n vlugrisiko is omdat sy na Lesotho wou vlug die dag van haar arrestasie.
Na afloop van die hofverrigtinge het Leon Campher namens die gemeenskap 'n memorandum aan die polisie oorhandig waarin hy eis dat generaal Oswald Reddy hulp aan Le Roux moet verleen.
"Dit is van kardinale belang dat die ondersoekbeampte alleenlik op dié saak moet fokus.
"Hy het tans ongeveer 80 ander sake waaraan hy werk en kan dus nie sy onverdeelde aandag aan die saak skenk nie."
Lees vorige artikels:
- Opvolg: Magdaleen Titus-borgtogaansoek
- Weermagmoord: Borgtogaansoek duur voort
- Weermagmoord: Borgaansoek vandag in hof
- Weermagmoord: Borgtog aan Mooi geweier
- Weermagmoord: Hofsaak uitgestel
- Sterk polisie-teenwoordigheid by borgtogaansoek
- Weermagmoord: Verdagte nader koerant
- Preston Titus met 3rde poging vermoor
- Vermeende baasbrein hoop op borgtog
- Borgtogaansoek teen Mooi uitgestel
- Weermagmoord: Borgtogaansoek uitgestel
- Weermagmoord: Verdagtes bly in aanhouding
- Weermagmoord: Verdagtes in hof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'