OUDTSHOORN NUUS - Die bekende Oudtshoornse slangvanger en brandweerman, Mornay Thysse, het Maandag 4 Mei sy splinternuwe slangvangtoerusting van Africa Reptiles and Venom ontvang.
Hierdie skenking is moontlik gemaak deur 'n ruim gemeenskapsinsameling ná die onlangse diefstal van sy toerusting.
Die professionele handskoene is noodsaak-lik vir veilige slangvangwerk, veral in beperkte ruimtes soos voertuigenjins en agter huishoudelike toestelle.
Drie plaaslike besighede, Santa Fe Spur, Cango Wildlife Ranch en KarooZinn, het die voortou geneem deur ander besighede en individue uit te daag om saam 'n bydrae te maak. Die ondernemings het self 'n gesamentlike skenking van R3 000 gemaak.
'n Aanvanklike teiken van R12 500 is gestel, maar die gemeenskap het alle verwagtinge oortref toe 'n indrukwekkende R17 700 ingesamel is. Die geld is aangewend om nie net nuwe handskoene aan te koop nie, maar ook om verdere noodsaaklike toerusting te vervang en op te gradeer.
Die nuwe toerusting sluit twee slang-vanghakke, twee slangvangtange, beskermhandskoene, twee slangvangbuise, snake gaiters vir enkel- en skenebeskerming, asook 'n hemp en hoedjie in.
'n Emosionele Thysse het sy opregte dank teenoor almal wat bygedra het uitgespreek.
"Eers toe hulle met die video begin, het ek besef wat aangaan. Ek was totaal oorstelp en het regtig nie woorde nie. Ek kon nooit dink iemand sou so iets vir my doen nie."
Volgens Vanessa Engelbrecht van Cango Wildlife het die projek gewys wat moontlik is wanneer 'n gemeenskap saamstaan.
Verskeie ander besighede en individue het ook tot die sukses van die veldtog bygedra, onder andere Karoo Pot, Safari Volstruisplaas, Aliyah Hope en Philip Jeal van Teal Soaps in De Rust.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’