Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Vir ewig is 'n baie lang tyd om iemand te mis, veral iemand wat sulke diep spore in jou lewe getrap het.
Só het Marili van der Merwe, James O'Connell se persoonlike assistent van die afgelope drie jaar, Maandag tydens sy roudiens gesê.
Die diens, wat regstreeks op YouTube uitgesaai is, het vriende, kollegas en gesinslede van oraloor by die Test Flying Academy of South Africa (TFASA) in Oudtshoorn byeen laat kom om hulde te bring aan die 59-jarige toetsvlieënier wat op 22 Maart tragies in 'n vliegtuigongeluk in Saldanha omgekom het.
Jean Rossouw, hoof van TFASA, het O'Connell beskryf as iemand op wie 'n mens altyd kon staatmaak.
"As jy op sy nommer gedruk het, dan was hy daar," het hy gesê. "Hy het sy lewe gewy aan hoërisiko-toetsvlieg, van enjins wat doelbewus afgeskakel is tot landings sonder krag, alles ten dienste van veiligheid en navorsing."
Hy het vertel hoe hulle in 1996 ontmoet het. Hulle het oorkant mekaar gewoon en saam kinders grootgemaak.
VIDEO: James O'Connell se roudiens
Volgens Rossouw het O'Connell se hande vir niks verkeerd gestaan nie, en staan die klimraam wat hy vir Rossouw se dogter gebou het steeds.
"Hy het gehou by sy beginsels. Daar was nie vir hom grys areas nie."
O'Connell, wat sy loopbaan by die lugmag begin het, was ten tyde van sy dood die hoofinstrukteur vir toetsvlieëniers by TFASA. Rossouw het genoem dat duisende vlieëniers hul vlerke onder O'Connell se waaksame oog gekry het.
Jean Rossouw Foto's: Liezl van Niekerk
"Hy het sy stempel oral waar hy gegaan het afgedruk. James is nie iemand wat mens sommer net kan vervang nie. Sy plek is leeg."
'n Boodskap van O'Connell se weduwee, Ansie, is ook gelees waarin sy die publiek bedank het vir hul ondersteuning en die talle boodskappe van medelye wat van regoor die wêreld ingestroom het.
'n Laaste eerbetoon aan James O'Connell.
'n Mens van beginsel, geloof en liefde
Barry Zaayman het James as sy "toetsvlieg-ander-helfte" beskryf.
"Jy het my nooit in die steek gelaat nie. Jou nalatenskap leef voort in jou seuns, in jou geloof, en in elkeen van ons wie se lewens jy aangeraak het."
Hy het ook geskryf dat sy lewe al so baie in O'Connell se hande was, maar dat hy hom nooit in die steek gelaat het nie.
"Dit was altyd Per Aspera Ad Astra vir ons (Deur swaarkry na die sterre)."
Marili van der Merwe
Petri van Zyl, nog 'n kollega, het in 'n brief vertel van O'Connell se vroeë dae by die lugmag, sy opleiding by die Empire Test Pilot School in Brittanje, en sy belangrike rol by die Toets- en Ontwikkelingssentrum in Bredasdorp.
"James het nie net vliegtuie getoets nie, maar het ook die karakter van 'n ware mentor en mens," het hy gesê. "Hy was 'n toetsvlieënier van wêreldgehalte, beginselvas, professioneel en onwrikbaar in sy geloof. Sy toewyding tot toetsvlugprogramme en vlugtoetsopleiding was fenomenaal en geen kort paaie is ooit geneem tydens sy projekte nie. Hy was beginselvas, sy besluite oor vlieg en toetsvlieg word nie deur eksterne druk beïnvloed nie. Hy was 'n goeie toetsvlieënier. Een van die bestes in die wêreld."
O'Connell is tydens 'n privaat diens in Kuruman begrawe. Sy nalatenskap as pa, eggenoot, vriend en meester-vlieënier sal egter bly voortleef.
Lees vorige berig hier:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’