OUDTSHOORN NUUS - "James was 'n fantastiese pa vir sy kinders en 'n ongelooflike eggenoot. Ons kon nie vir beter gevra het nie."
Ansie, James O'Connell, se vrou, praat met baie vrede in haar hart oor haar man.
James is Saterdag 22 Maart in 'n vlieg-ongeluk tydens 'n lugskou in Saldanha oorlede.
"Ons het geen verwyte nie. Ons het ons moeilike tye, maar ons het ook baie vrede."
Ansie en James sou op 27 April, 34 jaar getroud gewees het. Uit hul huwelik is drie kinders, Christiaan, Daniël en James gebore. Daniël is amper klaar met sy kommersiële vliegopleiding.
"Hy was van kleins af agter sy pa aan met die vliegpet op die kop. Hy wil graag helikopters vlieg."
Ansie beskryf haar man as 'n diep gelowige man wat geglo het in wat reg was.
"Hy het nie gehou van onregverdigheid nie. Hy was hardwerkend en 'n goeie voorsiener. Hy het al daardie waardes aan ons seuns oorgedra. Hy het hulle regtig alles geleer."
Volgens haar was hy ook vreeslik veiligheidsbewus wanneer dit by vlieg gekom het.
"Hy was hiper-perfek. Die aard van sy werk het dit vereis. Hy was nooit nalatig wanneer dit by vliegveiligheid of enigiets anders gekom het nie."
Jean Rossouw, president van TFASA (Test Flying Academy of South Africa), het gesê James se dood is 'n onmeetbare verlies vir die lugvaartgemeenskap.
James was die hoofvlieginstrukteur en hoof van die toetsvlieënierskool by TFASA.
TFASA, 'n vliegskool in Oudtshoorn, bied toetsvlug- en spesialis-lugvaartopleiding vir Asië en progressiewe nasies regoor die wêreld aan. Volgens Rossouw was die Impala Mark 1, 'n vegvliegtuig, een van TFASA se vertoonvliegtuie.
"James het ook 'n instrumentele rol gespeel in die vorming en bevordering van die volgende generasie toetsvlieëniers en vlugtoetsingenieurs.
"Hy het ons vir meer as 10 jaar gehelp om ons visie te vorm. As 'n internasionaal gerespekteerde verskaffer van gevorderde lugvaartoplossings, is TFASA se missie om vlugtoets- en spesialisvliegopleidingskundigheid oor beide militêre en burgerlikes lugvaartsektore te lewer, en James het hierdie missie vervul. Deur sy tegniese en professionele uitnemendheid, het hy die waardes gepersonifieer. Sy nalatenskap sal almal wat in sy voetspore volg inspireer," lui die verklaring.
Volgens Rossouw was O'Connell nie net 'n besondere vlieënier nie, maar ook 'n mentor en vriend.
"Die impak wat hy gemaak het sal vir jare blywend wees."
Volgens Sisa Majola, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse burgerlugvaartowerheid (SACAA - South African Civil Aviation Authority), sê die AIID (Accident and Incident Investigations Division) werk nou met die veiligheidsbeamptes wat by die lugskou teenwoordig was om voorlopige inligting in te samel.
"Die perseel is intussen beveilig hangende die aankoms van die ondersoekspan. Die AIID sal nuwe inligting bekendmaak indien nodig. 'n Voorlopige verslag sal 30 dae vanaf die dag van die ongeluk op die SACAA-webwerf gepubliseer word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’