OUDTSHOORN NUUS - Suid-Afrikaanse teksskrywers word uitgenooi om nuwe teksidees vir vanjaar se Teksmark in te dien. Teksmark, ’n inisiatief van die KKNK en NATi, word met ondersteuning van die Baxter-teatersentrum, die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Kuns en Kultuur-afdeling en die Het Jan Marais Nationale Fonds aangebied.
Die platform is daarop gemik om die ontwikkeling van nuwe Suid-Afrikaanse teatertekste te bevorder en skrywers met rolspelers in die bedryf te verbind vir moontlike investering en verdere ontwikkeling van hul werk.
Vanjaar val die fokus op teksidees in die genres kabaret, satire en komedie met sterk sosiopolitieke kommentaar, hoewel voorstelle in alle genres welkom is.
Teksidees kan in enige van Suid-Afrika se amptelike tale ingedien word.
Volgens Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, het Teksmark sedert die ontstaan daarvan in 2016 aansienlik gegroei en bied dit ’n waardevolle ruimte vir kunstenaars uit verskillende taalgemeenskappe om idees uit te ruil.
Beide opkomende en gevestigde skrywers word aangemoedig om hul voorstelle voor Vrydag 17 Julie om middernag in te dien.
Gekeurde voorstelle sal as leesteater by die Baxter-teatersentrum in Kaapstad op 10 en 11 September, of by UJ Kuns en Kultuur in Johannesburg op 21 Oktober aangebied word.
Hoewel volledige tekste welkom is, is dit nie ’n vereiste vir deelname nie. Skrywers moet egter minstens tien minute se speelteks indien om oorweeg te word. Alle voorstelle moet aanlyn by kknk.co.za ingedien word.
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na [email protected], WhatsApp 065 285 2337 of skakel 044 203 8600.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’