"Hierdie is 'n historiese geleentheid," het adv. Lyndon Bouah, hoofdirekteur van sport en ontspanning in die kantoor van die Wes-Kaapse minister van sport, gesê.
Bouah sê dit is verder uniek omdat 'n nasionale instansie, die SANW, 'n provinsiale department, die Wes-Kaapse Departement Kultuursake en Sport, asook 'n plaaslike owerheid, die Oudtshoorn-munisipaliteit, saam betrokke is.
"Dit is 'n bewys dat ons as Suid-Afrikaners wel kan saamwerk. Dit is harde werk, passie en vasbeslotenheid wat vanaand die kroon span na meer as twee jaar se onderhandelinge."
Agt sportkodes naamlik boks, tafeltennis, atletiek, sokker, netbal, bofbal, fietsry en swem is vir die akademie geïdentifiseer en sal bestuur word deur 'n komitee bestaande uit lede van die SWD Sportraad, die Wes-Kaapse Departement Kultuursake en Sport, die Oudtshoorn-munisipaliteit en die SA Nasionale Weermag.
Volgens Bouah is die akademie 'n pluimpie vir die Suid-Kaap. "Dit is die eerste distrik sportakademie en die res van die land sal dit beslis met arendsoë dophou."
"Die rol van die akademie is om sportmanne en –vroue vir die professionele sport voor te berei. Om loopbane te bou en te bevorder en ons atlete en ander sportlui binne die volgende drie jaar medaljes huis toe kan bring," het die president van die SWD Sportraad, mnr. Goliath Munro, gesê.
"Niks kan bereik word deur stil te staan nie," het hy bygevoeg.
Die burgemeester van Oudtshoorn, mnr. Gordon April, het aangekondig dat die raad reeds besluit het om sy fasiliteite soos die De Jager-sportkompleks en die NA Smit-swembad vir die eerste ses maande gratis beskikbaar te stel.
"Dit maak deel uit van die Oudtshoorn-munisipaliteit se visie om Oudtshoorn die sportmekka van die Suid-Kaap te maak," het hy gesê.
Hy het ook die hoop uitgespreek dat die akademie uitgebrei sal word tot voordeel van sport in die algemeen.
Oor die rol van die SANW by die akademie het brig.genl. Gordon Mzwandile Yekelo, direkteur liggaamlike opvoeding, sport en ontspanning van die Departement Verdediging gesê die akademie sal nie net 'n bydrae tot sport in die streek lewer nie, maar ook help om 'n beter weermag te bou.
"Die SANW sal sy hekke moet opmaak vir die kinders om te speel asook om akkommodasie en vervoer te verskaf waar moontlik."
Hy het sy kommer uitgespreek oor die afskaffing van liggaamlike opvoeding by skole wat daartoe gelei het dat die weermag rekrute kry wat geen sportagtergrond het nie. Hierdie is 'n wonderlike en groot inisiatief en ek glo dat dit sal bydra om die weermag om te keer."
Hy het 'n pleidooi gelewer dat net die beste genooi word na programme van die akademie.
* Die eerste twee projekte van die akademie het reeds plaasgevind. Die eerste was 'n fietsry-oefenkamp met 12 van die SWD se top jong fietsryers van 2 tot 5 Januarie in Port Elizabeth en 'n SWD-swemoefenkamp met vyftig van die streek se top jong swemmers op11 en 12 Januarie op Oudtshoorn.
Abri de Swardt, wat as bestuurder van die akademie aangestel is, het albei projekte as baie geslaagd bestempel.
Volgens De Swardt word verskeie projekte vir die volgende drie maande beplan. 'n Generiese werkswinkel vir geïdentifiseerde afrigters van al agt sportkodes is Saterdag onder leiding van De Swardt en 'n span sportwetenskaplikes op Oudtshoorn aangebied. Oefenkampe met boks, tafeltennis, sokker, netbal, bofbal, atletiek, fietsry en swem asook verskeie talentidentifiseringsbyeenkomste en –programme vorm ook deel van die program.
By die loodsing van die SWD Sportakademie verlede Vrydagaand op Oudtshoorn sit voor van links: mnr. Goliath Munro (voorsitter van die SWD Sport-raad), brig.genl. Gordon Mzwandile Yekelo (direkteur liggaamlike opvoeding, sport en ontspannig van die Departement van Verdediging), adv. Lyndon Bouah (Wes-Kaapse uitvoerende direkteur: sport en ontspanning), mnr. Gordon April (uitvoerende burgemeester van die Groter Oudtshoorn) en mnr. Abri de Swardt (bestuurder van die akademie).