SPORTNUUS - Die Eden-tweekampfederasie in samewerking met die Wes- Kaapse departement van kultuursake en sport en die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit se ontwikkelings-departement, het onlangs 'n ontwikkelings-kliniek vir jonger atlete by Hoërskool Oudtshoorn se sportterrein en by die NA Smit-swembad aangebied. Dave van der Walt van Eden-tweekamp was die organiseerder.
Toegang was gratis vir alle belangstellendes en ligte verversingspakkies is ook aan alle deelnemers voorsien.
Slegs 30 persone kon geakkommodeer word as gevolg van die fasiliteit- en afrigtersbeperkinge.
Van die land se topafrigters, Susan Juta (swem) en Johan Windt (naellope) was daar om die atlete te help en touwys te maak.
Stephnie McKay, Eden-tweekamp se voorsitter, het ook ywerig hand bygesit. Dit het ongeveer twee ure geduur. Die deelnemers moes hulle hardloop- en swemdrag saambring.
Ian Laubscher en Brian Lucas van die Oudtshoorn-munisipaliteit het ook kom hand bysit. Daar is by hierdie kliniek gekonsentreer op een skool uit die Bridgton-area, De Villiers Primêr.
Damon Gysman van dié skool het hulle vergesel en het agterna sy tevredenheid uitgespreek met die kliniek en die leerders se entoesiasme. Aan die einde is daar twee aansporingspryse toegeken aan twee belowende atlete, Waldo Sederstrom en Raylin Morris.
'n Suksesvolle Bridgton-tweekampontwikkelingskliniek is onlangs aangebied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’