Breaking News Update
TUINROETE | KAROO NUUS - Die Suid-Kaap Kinder- en Jeugkoor se uiters suksesvolle Europese konserttoer het op die laaste been van hul terugreis ’n onverwagse en spanningsvolle wending geneem toe hul Emirates-vlug vanaf Brussels weens gure weer gekanselleer is.
Die koorlede, wat pas met lof en uitstekende prestasies van die Europees Muziekfestival voor de Jeug terugkeer, het hulself skielik by die lughawe in onsekerheid bevind nadat die vlug nie kon vertrek nie.
Volgens inligting is daar egter vinnig ingegryp toe die groep se reisagent vanuit George onmiddellik die hoogste Emirates-beampte gekontak het om bystand te reël.
Danksy dié spoedige optrede is die bekommerde toerlede sonder verwyl na die Sheraton Brussels Airport Hotel begelei, waar hulle in luukse kamers tuisgegaan het en van aandete asook ontbyt voorsien is. Die lugredery het boonop alle kostes gedra en nuwe vlugreëlings vir die volgende dag getref.
Sonder die daadwerklike ingryping van hul reisagent kon die situasie glo baie anders verloop het, met die moontlikheid dat die groep op die lughawe moes oornag.
Die koor vertrek nou Dinsdagmiddag om 15:00 vanaf Brussels na Dubai en sal na verwagting Woensdagmiddag in Kaapstad land. Van daar wag nog ’n lang busrit huis toe deur die Kaapse weer.
Ten spyte van die ontwrigting bly die toer vir die Suid-Kaap Kinder- en Jeugkoor ’n onvergeetlike suksesverhaal, een waarin internasionale musikale triomf, onverwagse reisdrama en dankbaarheid hand aan hand stap.
- Vorige berig: Kore gestrand in Brussels
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’