Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Die Suid-Kaap Kinderkoor en Suid-Kaap Jeugkoor is tans in Brussels gestrand nadat hul terugvlug na Suid-Afrika gisteraand, 4 Mei, gekanselleer is.
Volgens Paul Stassen, ’n ouer van een van die koorlede wat saam met die koor in Europa reis, vermoed hulle die besluit hou verband met die onstabiele situasie in die Midde-Ooste.
“Ons vlug is letterlik ’n uur voor vertrek gekanselleer nadat Emirates alle vlugte van en na Dubai opgeskort het. Die lugredery het ons intussen in ’n viersterhotel gehuisves en ons sal hier bly totdat ’n moontlike direkte vlug na Kaapstad of Johannesburg gereël kan word,” het hy gesê.
Stassen het genoem dat daar onbevestigde berigte die ronde doen dat Irak moontlik aanvalle op Dubai van stapel gestuur het, maar dat geen amptelike bevestiging daarvan ontvang is nie. Hy het egter beklemtoon dat al die kinders veilig is en dat Emirates die groep tans as ’n prioriteit hanteer.
Die kinders het in April na Europa vertrek en tydens hul toer in Duitsland, Nederland en België opgetree.
Die hoogtepunt van die toer was die kore se deelname aan die 74ste Europees Muziekfestival voor de Jeugd in Pelt, België.
Oudtshoorn Courant sal lesers op hoogte hou soos verdere inligting beskikbaar raak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’