Update
OUDTSHOORN NUUS - Natasha Stuurman (38), die vrou wat op 19 Januarie saam met Magdaleen Titus vir die moord op Preston Titus in hegtenis geneem is, se borgtogaansoek het Dinsdag in die Oudtshoorn-landdroshof begin.
Stuurman het saam met Titus op 29 Januarie vir 'n borgtogaansoek verskyn, maar Stuurman het aangedui dat sy nie op daardie stadium om borgtog wil aansoek doen nie. Titus is in Februarie borgtog geweier.
Titus se man, Preston, is die nag van 1/2 Desember dood in sy woning in die weermagkamp aangetref. Hy het verskeie steekwonde aan sy lyf gehad.
Stuurman se prokureur, Chris Morgan, het Dinsdag 'n verklaring van Stuurman in die hof voorgelees.
"Wanneer daar om borgtog aansoek gedoen word, moet die hof onthou dat borgtog nie jou skuld of onskuld bewys nie. Dus moet dit ook nie as 'n voorlopige straf gesien word deur 'n beskuldigde borg te weier nie. Vryheid van die mens is kosbaar en word ook deur die wet beskerm," lui die verklaring.
Hy het verder gesê dat Stuurman erken dat dit 'n brutale en wreedaardige moord was, maar dat sy nie geweet het van Titus se plan om haar man te vermoor nie. Sy sal ook in die verhoor aan die hof kan bewys dat sy niks met dit te doen gehad het nie.
Hy het ook gesê dat Stuurman nie 'n gewelddadige persoon is nie, sy geen wrok teen enigiemand koester nie en sy het nog nooit iemand gedreig nie.
Volgens die verklaring was Stuurman die aand van die moord in Beaufort-Wes saam met 'n pastoor. 'n Verdagte, Sixabiso Klip, wat reeds gevonnis is, het haar glo later van die planne om Preston te vermoor ingelig.
Sy het ook nie geweet dat die twee persone wat sy gehuisves het, huurmoordenaars is nie, omdat Titus aan haar gesê het dit is mans wat 'n ANC-koukus gaan bywoon.
Sy het ook haar voertuig aan Klip, wat Titus se drywer was, geleen, omdat Titus gesê het sy moet ander mense vir die koukus rondry.
Morgan het verder gesê dat sy kliënt nie 'n vlugrisiko is nie en, alhoewel sy oor reisdokumente en 'n paspoort beskik, sal sy dit indien. Sy het ook bates, vriende en familie in Oudtshoorn.
Volgens Morgan is Stuurman sewe maande swanger en het sy ook 'n minderjarige kind.
"My kliënt kan dus nie bekostig om nie die borgtogvoorwaardes na te kom en nie die hofverrigtinge by te woon nie."
Morgan sê sy kliënt ken ook nie die getuies nie en kan dus nie met hulle inmeng nie.
Adv. Michelle Weyers, wat vir die staat optree, het ook 'n verklaring van ao. Martin le Roux, 'n ondersoekbeampte in die saak, voorgelees.
Weyers het klem gelê op die erns van die misdryf en gesê dat Stuurman definitief vooraf van die moord bewus was. Volgens haar het Stuurman, toe sy in Desember deur die polisie gearresteer is en daarna weer vrygelaat is, vrywillig 'n verklaring by die polisie afgelê.
"Volgens die verklaring het sy vir die twee mans, Vusumsi (wat nog op vrye voet is) en Justice Mooi gevra wat hulle in die weermagkamp moet gaan doen en hulle het aan haar gesê dat hulle 'n hit moet uitvoer. Sy moes dus geweet het van die moord."
Sy het ook gesê dat Stuurman glo deel was van 'n vergadering na die moord waar details oor die moord bespreek is.
Weyers het verder klem gelê op die feit dat die staat 'n sterk prima facie saak teen Stuurman het.
Sy het verder gesê dat die vrouetronk op Oudtshoorn 'n huis vir ma's en hul kinders het en dat daar al voorheen swanger vroue in die tronk was.
Landdros The-Olén November het die aansoek na 9 April uitgestel.
Lees vorige artikels:
- Weermagmoord: Natasha Stuurman-borgtogaansoek vandag
- Weermagmoord: Borgtog geweier
- Weermagmoord: Geen borg vir Magdaleen Titus
- Opvolg: Magdaleen Titus-borgtogaansoek
- Borgtogaansoek steeds aan die gang
- Weermagmoord: Gerugte oor arrestasie onwaar
- Polisgeld dalk moordmotief
- ANC skors Magdaleen Titus tydelik
- Opvolg: Magdaleen Titus-borgtogaansoek
- Weermagmoord: Borgtogaansoek duur voort
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'