Update
OUDTSHOORN NUUS - Rika Venter (88), bekende inwoner van Oudtshoorn en ook stigter van die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue, is Dinsdag-oggend oorlede.
Volgens haar kleindogter, Angelique Erasmus, het Venter verlede week 'n beroerte gehad.
"Sy het vandaar agteruitgegaan en is Dinsdagoggend rustig in haar slaap oorlede. My oupa, Thinus (94), is presies 'n maand en 'n week terug oorlede," vertel sy.
Volgens haar was haar ouma en oupa 69 jaar getroud.
"Ek het baie by my ouma geleer. Veral van vrouwees. Ons as familie is dankbaar dat ons hulle so lank in ons lewe kon hê en ook vir die feit dat hulle hul agterkleinkinders ook kon leer ken."
Venter was alombekend as 'n formidabele vrou wat baie deure in die sakewêreld vir vroue oopgemaak het.
Sy het die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue in 1988 gestig en was ook die eerste president daarvan. Sy was ook die eerste vrou wat in die hoofbestuur en dagbestuur van die AHI gedien het asook in die dagbestuur van die Johannesburg Afrikaanse Sakekamer (JAS).
Sy en haar man, oorspronklik van Johannesburg, het 22 jaar gelede na George verhuis en woon die laaste tien jaar in Oudtshoorn.
Hulle was die eienaars van die Artistico Kunsgalery in George.
Die egpaar word deur vyf kinders, twee dogters en drie seuns, 12 kleinkinders en nege agterkleinkinders oorleef.
Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.
Vorige artikel: Rika Venter oorlede
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'