Update
OUDTSHOORN NUUS - Boodskappe van medelye het die afgelope week na die ouers, familie en vriende van Stefan Marais gestroom nadat dié Gr 11- leerder van Oakdale in Riversdal verdrink het.
Boodskappe het ook op sosiale media en na die skool ingestroom.
Stefan (16) was sedert Vrydagmiddag 19 Januarie vermis nadat hy en 'n groot groep Oakdalers by die riviermond op Stilbaai aan spanbou-aktiwiteite deelgeneem het.
Volgens inligting het hy nie saam met hulle op een van die vyf busse na Riversdal teruggekeer nie.
Sy klere is by die riviermond gevind en aanvanklik het die plaaslike NSRI met die soektog gehelp, maar later is polisieduikers ook ingeroep omdat die vermoede ontstaan het dat hy moontlik kon verdrink het.
Die soektog is later weens swak lig gestaak en is Saterdagoggend voortgesit. Stefan se lewelose liggaam is om 12:30 deur Kobus Crous, eienaar van Mossel Bay Helicopters wat met die soektog gehelp het, vanuit sy helikopter opgemerk.
Stefan se pa, Pine, was saam met hom in die helikopter toe hulle die liggaam sowat 300 meter van die monding in die Goukourivier gewaar het.
Hoewel die hoop skraal was dat Stefan lewend gevind sou word, het dié ontdekking steeds skokgolwe deur die groot groep mense wat by Lapskuit saamgetrek het, gestuur.
Trane het gevloei en verskeie groepies het in gebed bymekaargekom.
"Oakdale is verslae, maar nie verslaan nie. Stefan se dood sal ons motiveer tot uitnemendheid ten einde sy doelwitte en aspirasies namens hom uit te leef. Die hand van broederskap en samehorigheid sal steeds sterker groei, maar Stefan Marais sal soos 'n Altus Botes 'n legende op Oakdale bly," het André Latsky, skoolhoof van die Hoër Landbouskool Oakdale, aan Suid-Kaap Forum, susterkoerant van die Oudtshoorn Courant gesê.
Latsky was ook vir die duur van die soektog op die toneel.
Inwoners en reddingwerkers op die toneel. INLAS: Stefan Marais.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder het gesê dat 'n geregtelike doodsondersoek gedoen word.
'n Lykskouing is Dinsdag 23 Januarie op Oudtshoorn uitgevoer, maar die uitslag daarvan was teen druktyd nie bekend nie.
Latsky het aan Suid-Kaap Forum gesê dat hierdie 'n fratsongeluk is wat die skool 'n harde slag toegedien het.
Stefan se pa, Pine Marais het Maandag 22 Januarie met die Oakdalers in die saal gesels en 'n besondere motiveringsboodskap en sy lojaliteit aan die seuns oorgedra, waarna hy met staande applous deur die seuns toegejuig is.
Die Marais-gesin word oorval deur goeie wense en ondersteuning deur vriende, kollegas en die gemeenskap waarvoor hul opregte dank betuig.
Stefan se gedenkdiens vind vandag om 11:00 vanuit die NG Kerk Moedergemeente Riversdal plaas.
Lees verwante artikels:
- Outopsie op jong leerder Dinsdag
- Vermiste seun nog nie opgespoor nie
- Stefan Marais is nog nie gevind nie
- Vermiste seun nog nie gevind
- Opvolg: Vermiste seun
- Stilbaai: Seun vermis
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'