OUDTSHOORN NUUS - Die staat het Vrydag, 28 Oktober in die Oudtshoorn-streekhof sy saak in die lang uitgerekte verhoor van die Bowkers-egpaar na die kruisverhoor van die ondersoekbeampte gesluit.
Desiree Bowkers (38) staan saam met haar man Ricardo (40), wat tans 'n vonnis van 12 jaar uitdien vir bedrog en geldwassery, tereg op nog 22 soortgelyke aanklagte.
Hulle het na bewering vals eise by Santam en Mutual & Federal ingedien en die uitbetalings vir hulself toegeëien.
Van die oortredings is glo gepleeg terwyl Ricardo in aanhouding was.
Sers. Edville Dean van die Valke het getuig hoedat die egpaar te werk gegaan het om van die versekeringsmaatskappye te eis. Die eise het volgens Dean grootliks gegaan oor skootrekenaars, kameras en selfone wat na bewering gesteel of weggeraak het en by die polisie aangemeld is om saaknommers te verkry.
Dean het ook vorige sake van Ricardo Bowkers ondersoek en sy stem herken as die persoon wat elke keer Santam geskakel het om 'n eis in te dien.
Volgens Wenzel Botha, regsverteenwoordiger van Desiree Bowkers, sal sy getuig dat hulle lank getroud was en sy haar man vertrou het. Sy het nie geweet dat hy by enige misdaad betrokke was nie.
Ricardo Bowkers se regsverteenwoordiger, adv. Pieter van Wyk, het die hof meegedeel dat hy nie sal getuig nie en van sy swygreg gebruik sal maak.
Lees vorige artikels hier:
- Bedrogsaak teen egpaar uitgestel
- Bedrogsaak teen egpaar uitgestel
- Appèlaansoek van bedrieër uitgestel
- Bedrieër kry 12 jaar tronkstraf
- Egpaar in hof vir bedrog en geldwassery
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'