OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen ‘n egpaar van Oudtshoorn, wat van versekeringsbedrog en geldwassery aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir die kruisondervraging van die ondersoekbeampte uitgestel.
Die Desiree Bowkers (38) staan saam met haar man Ricardo (40), wat tans ‘n vonnis van 12 jaar uitdien vir bedrog en geldwassery, tereg op nog 22 soortgelyke aanklagte.
Hulle het na bewering vals eise by Santam en Mutual & Federal ingedien en die uitbetalings vir hulself toegeëien, van die oortredings is glo gepleeg terwyl Ricardo in aanhouding was.
Sers. Edville Dean van die Valke het getuig hoe die egpaar te werk gegaan het om van die versekeringsmaatskappye te eis. Die eise het volgens Dean grootliks gegaan oor skootrekenaars, kameras en selfone wat na bewering gesteel of weggeraak het en by die polisie aangemeld is om saaknommers te verkry.
Dean het ook vorige sake van Ricardo Bowkers ondersoek en sy stem herken as die persoon wat elke keer Santam geskakel het om ‘n eis in te dien.
Volgens Dean het Bowkers in die meeste gevalle sy vrou se bankrekeningnommer en in sommige gevalle die bankrekeningnommer van een van hul kinders verskaf vir die inbetaling van die bedrag wat geëis is.
Desiree Bowkers se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof verlede week om uitstel gevra vir die kruisondervraging van Dean omdat hy inligting verlang van haar man se vorige hofsake.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die versoek toegestaan en die saak daarna uitgestel tot 8 September. Hyron Goulding is die aanklaer en adv. Shaun Ferreira verskyn namens Ricardo Bowkers.
Desiree Bowkers is op waarskuwing vrygelaat.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'