Update
OUDTSHOORN NUUS - Die feit dat drie insittendes van twee motors Sondagoggend bykans ongedeërd was na 'n ersntige botsing is deur nooddisntewerkers as 'n wonderwerk beskryf. Beweringe dat spoed 'n rol in die erns van die botsing gespeel het is ook uit verskeie oorde gehoor.
Verskeie bewerings dat 'n rooi BMW, wat verlede naweek in 'n ernstige botsing betrokke was, baie vinnig gery het, is hierdie week opgevolg.
Die botsing het Sondagoggend 16 September, omstreeks 06:10 by die kruising van Baron van Reedestraat en Voortrekkerweg plaasgevind toe die BMW teen die linkersy van 'n wit Toyota Cressida gebots het.
Die slag van die botsing het die Cressida in die middel laat knak en dit teen twee pale op die sypaadjie geslinger. Die voorkant van die BMW is onherstelbaar beskadig en die motor het sowat 15 meter verder teen die sypaadjie tot stilstand gekom.
Nooddienswerkers op die toneel het dit as 'n wonderwerk beskryf dat niemand, en veral nie die bestuurder van die Toyota, ernstig beseer is tydens die botsing nie.
"Toe ons die man in die Cressida sien lê, het ons gedink hy is dood, maar toe maak hy sy oë oop. Dit is 'n wonderwerk dat hy net 'n hou teen die kop gekry het," het een van die paramedici gesê.
Die bestuurder van die BMW is ongedeerd en 'n vroulike passasier wat saam met hom was het slegs ligte beserings aan haar mond opgedoen. Die bestuurder van die BMW het aanvanklik op die toneel gesê hy het by die verkeerslig weggetrek toe hy deur die Cressida getref is.
Later het hy gesê hy het stadig gery toe die Cressida vinnig voor hom ingedraai het.
Die BMW waar dit tot stilstand gekom het na die botsing.
Die bestuurder van die Cressida, Stefan Speelman (22), sê die BMW het so vinnig van voor gekom dat hy hom glad nie gesien het voordat die motor op hom was nie. "Ek het by die verkeerslig gewag om in Baron van Reedestraat in te draai. Daar het 'n taxi van voor af gekom en ek het gewag totdat hy verby is.
"Daar was geen voertuig agter die taxi nie en ek het begin draai. Die volgende oomblik het ek 'n kar se ligte gesien wat oor die bultjie kom en reg op my afkom. Ek kon niks doen nie en die kar het my getref."
Volgens hom het hy sy bewussyn verloor en eers wakker geword toe nooddienswerkers by hom gekom het. Hy het Dinsdag by sy ouerhuis in Lategansvlei gesê hy kan nie glo dat hy met net 'n sny teen sy kop en 'n seer been uit die kar gehaal is nie. Die botsing kon baie erger gevolge vir die gesin gehad het as sy pa, Stefaans, saam met hom dorp toe gery het soos wat hulle aanvanklik beplan het.
"As ek saamgery het sou een van ons in die passasierskant gesit het en dan was een van ons dood," het Stefaans gesê.
Stefan Speelman by sy ouers, Stefaans en Nellie in hulle huis op Lategansvlei nadat hy uit die hospitaal ontslaan is. Foto: Hannes Visser.
Die Oudtshoorn Courant het beweringe dat mense die BMW minute voor die botsing in Voortrekkerweg sien jaag het, opgevolg. By twee besighede het mense bevestig dat die BMW teen 'n hoë spoed oor die kruising van Voortrekker- en Jan van Riebeeckweg gejaag het en dat hulle kort daarna 'n geweldige slag gehoor het.
Twee sekerheidskameras van 'n sakeonderneming het beeldmateriaal van die BMW wat om 06:09 oor die kruising jaag sekondes nadat die lig geel geslaan het. Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het bevestig dat 'n klag van roekelose en/of nalatige bestuur ondersoek word.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'