Update
KANNALAND NUUS - Werner Meshoa, die Icosa-speaker van Kannaland-munisipaliteit is nie noodwendig sy pos as speaker of as raadslid kwyt nadat hy verlede week aan bedrog en regsverydeling skuldig bevind is nie.
Hy was aangekla dat hy vals vervoereise ingedien het en mense ook omgepraat het om vals beëdigde verklarings af te lê.
Hy word Vrydag in die streekhof op Ladismith gevonnis.
Volgens Dawid Kamfer, provinsiale leier van Icosa, gaan die party eers wag dat die hele regsproses afgehandel is, voordat daar ‘n besluit oor Meshoa se lidmaatskap van die party geneem word.
“Meshoa word eers Vrydag gevonnis en dan het hy nog geleentheid om teen die skuldigbevinding en vonnis te appelleer. Ons kan dus nie nou al sê wat ons optrede gaan wees nie,” het Kamfer vanoggend gesê.
Volgens ‘n munisipale bestuurder van ‘n ander munisiplaiteit wat genader is vir duidelikheid in ‘n geval waar ‘n raadslid ‘n misdryf gepleeg het, kan ‘n raadslid wat aan ‘n misdryf skuldig bevind word slegs sy setel verloor indien hy vir 12 maande of langer direkte gevangenisstraf opgelê word of indien sy party besluit om sy lidmaatskap te beëindig.
Totdat die prosesse afgehandel is, blyk dit dus dat Meshoa nog stewig in die speakerstoel sit.
Hy het in November die speaker geword toe ‘n samewerkingsooreenkoms tussen die ANC en die DA skipbreuk gely het.
Aletta Theron van die DA was sedert 2016 tot November 2020 die speaker.
‘n DA-lid met insae in Kannaland het vandeesweek gesê dit is jammer dat die ANC hulle samewerking met die DA in Kannaland verbreek het.
Volgens hom het die raadslede se samewerking in weerwil van hulle partye, daartoe gelei dat ‘n groot deel van Kannaland se skuld gedelg is en dienste verbeter is.
Dit is nie bekend waarom die ANC verlede jaar in November besluit het om eerder met Icosa saam te werk nie.
Vorige artikels:
- Kannaland se Icosa-speaker skuldig aan bedrog
- Klag van bedrog teen Kannaland raadslid
- Kannaland-raadslid deur Valke gearresteer
'Ons bring jou die nuutste Kannaland, Klein Karoo nuus'