KANNALAND NUUS - Die Icosa-raadslid, Werner Meshoa, wat verlede jaar in November die speaker van Kannaland-munisipaliteit geword het, is Dinsdag 19 Januarie in die streekhof op Ladismith aan bedrog sowel as dwarsboming van die gereg, skuldig bevind.
In ‘n mediaverklaring sê Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, die skuldigbevinding volg op klagtes dat Meshoa in 2016, toe hy ‘n Icosa-raadslid was, ‘n vals vervoereis van R4 000 by die munisipaliteit ingedien het.
Volgens die eis het hy aangevoer dat hy ‘n vergadering in Kaapstad van 16 tot 21 Oktober 2016 bygewoon het. Hy het egter nie so ‘n vergadering bygewoon nie.
Hani sê dat Meshoa verder wederegtelik opgetree het toe hy ‘n vriend en familielede oortuig het om vals verklarings af te lê om hom te beskerm toe dit aan die lig gekom het dat hy nie die vergadering bygewoon het nie.
Hulle het beëdigde verklarings afgelê dat Meshoa se voertuig onklaar geraak het en dat hy as gevolg daarvan nie die vergadering waarvoor hy ‘n eis ingedien het, kon bywoon nie
Meshoa se lot sal op 29 Januarie bekend word wanneer vonnisverrigtinge begin.
Volgens ‘n ander verklaring wat deur Gillion Bosman, die DA se kiesafdelingshoof in Kannaland, uitgestuur is, het Reynold Stevens, wat in 2018 die munisipale bestuurder was, die klag teen Meshoa gelê.
Meshao het op 4 November die speaker geword toe die ANC hulle samewerking in Kannaland met die DA beëindig het en hulle by Icosa geskaar het.
Die DA en die ANC het die Kannaland-munisipaliteit sedert 2016 buite bereik van Icosa gehou, maar dit het egter verander op 4 November met die ooreenkoms tussen die ANC en Icosa.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Kannaland, Klein Karoo nuus'