Update
KANNALAND NUUS - 'n Icosa-raadslid van die Kannaland-munisipaliteit, Werner Meshoa, is Maandag deur lede van die Valke op 'n klag van bedrog in hegtenis geneem.
Kaptein Philani Nkwlase, Wes-Kaapse woordvoerder van die Valke, het gesê die voorval het in September 2016 plaasgevind.
"Die raadslid het 'n eis van ongeveer R7 000 by die munisipaliteit ingedien na hy glo Kaapstad toe is. Hy is egter glo nie Kaap toe nie."
Volgens Dawid Kamfer, Icosa se nasionale woordvoerder en provinsiale leier, het Meshoa by die Ladismith-polisiestasie aangemeld toe hy uitgevind het dat daar 'n lasbrief vir sy arrestasie is.
Hy het bevestig dat Meshoa Maandag in die hof verskyn het en op borgtog van R1 000 vrygelaat is.
Volgens Kamfer hou die klag verband met brandstofgeld ten bedrae van R2 000 wat Meshoa glo nie terugbetaal het nie.
Kamfer het gesê die optrede teen Meshoa is polities gedrewe.
Die Oudtshoorn Courant het in Oktober verlede jaar berig dat die Valke op die Kannaland-munisipaliteit en Icosa se kantore toegeslaan het.
Kaptein Lloyd Ramovha, Wes-Kaapse woordvoerder vir die Valke, het toe bevestig dat hulle Dinsdag, 17 Oktober op items wat rekenaars ingesluit het, beslag gelê het. Ramovha het gesê die beslaglegging was deel van 'n bedrog-ondersoek.
Nkwlase het hierdie week gesê dat Meshoa se arrestasie nie met daardie ondersoek verband hou nie.
Ian Avontuur, woordvoerder van Kannaland-burgemeester, Magdalena Barry, het die week in 'n verklaring sy kommer uitgespreek oor die skade aan Kannaland se beeld en integriteit as gevolg van Meshoa se arrestasie en het 'n beroep op Meshoa gedoen om as raadslid te bedank.
"Ons wag angstig op die finalisering van die forensiese ondersoek, en verwag dat daar nog groter korrupsie-skokke gaan kom vir Kannaland se vorige bestuur.
"Die voorlopige forensiese ondersoek het reeds wanadministrasie van sowat R15 miljoen uitgelig," het hy in die verklaring gesê.
Lees 'n vorige artikel: Kannaland-raadslid deur Valke gearresteer
'Ons bring jou die nuutste Kannaland, Klein Karoo nuus'