OUDTSHOORN NUUS - 'n Swart sportmotor met 'n afslaankap wat Saterdag deur motoriste opgemerk is waar dit tussen George en Oudtshoorn jaag, se kapperjolle het dieselfde aand in 'n erf in Bridgton geëindig.
'n Motoris wat Saterdagoggend 'n vrou, wie se motor op die George-pad onklaar geraak het, gehelp het, het die motor in die omgewing van Holgate sien verbyjaag.
"Ek was net besig om die nooddienste te skakel om die naam van die pad te bevestig sodat die vrou se versekeraar 'n insleepdiens kon reël, toe die motor teen 'n hoë spoed oor die bult kom en deur die draai vlieg in die rigting van Oudtshoorn. Ons het gedink hy gaan nie die draai maak nie en gelukkig was daar nie ander karre op die pad nie."
Hy sê hy het nog met die persoon wat hy gebel het, gespot en gesê hulle moet maar op die uitkyk wees vir 'n swart kar met groot goue wiele wat dalk iewers die pad gaan byster raak.
Die Oudtshoorn Courant het Sondag 'n foto ontvang van die Honda S2000 wat Saterdag omstreeks middernag in Zebraweg buite beheer geraak het en deur 'n heining geploeg het.
Op 'n navraag Maandag het kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, gesê geen botsing is aangemeld nie. Volgens mense wat op die toneel was, was daar wel wetstoepassers by die botsing, maar daar is glo vir hulle gesê die bestuurder is nie meer daar nie.
Sover vasgestel kon word, woon die eienaar van die motor in George en het hy vir die dag op Oudtshoorn kom kuier om glo 'n troue by te woon.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'