OUDTSHOORN NUUS - Die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit staar tans groot uitdagings in die gesig met sy padnetwerk, slaggate en verouderde pypleidingstelsels. Oudtshoorn Courant het navraag gerig by Aurelia Mle, mediawoordvoerder van Oudtshoorn-munisipaliteit oor die aantal slaggate in die dorp wat motoriste moet vermy om skade aan hul voertuie se bande te vermy, asook wanneer die munisipaliteit aandag gaan gee aan die kwessie.
"In die ouer gebiede van Oudtshoorn, soos die Oudtshoorn-Noord en -Suid, SSK (Sentrale Sakekern) en Wesbank, is geen herseëlwerk sedert die vroeë 2000's gedoen nie. Hierdie gebrek aan periodieke herseël in hierdie gebiede het veroorsaak dat die toestand van die strate van redelik tot baie swak was, en daarom is padrehabilitasie-aksie uitstaande in sommige gebiede."
Bitumen geplaveide strate is in 'n swak toestand, hoofsaaklik as gevolg van 'n gebrek aan beplande instandhouding, met strawwe somers en winters wat bygedra het en veroorsaak het dat die teer (ouer dorpsgebied se strate was nog geteer in die vroeë 1980's) bros geword het.
Befondsing blyk die grootste uitdaging te wees wat oorkom moet word. Ten einde paaie op standaard te bring, moet toepaslike jaarlikse befondsing beskikbaar gestel word.
Die meerderheid paaie het 'n kritieke stadium bereik aangesien nuwe slaggate blykbaar voortdurend vorm, met die enigste oplossing ligte tot medium rehabilitasie.
Die waterretikulasie van Oudtshoorn bestaan uit 'n netwerk van hoofsaaklik asbes-sementpype van 300 mm deursnee en kleiner, wat tussen 1975 en 1980 geïnstalleer is. Die asbes-sementpype het die einde van hul leeftyd bereik en pypbarste kom gereeld voor, hoofsaaklik weens krake.
Ondersoek dui daarop dat die hoofoorsaak van pyponderbreking te wyte is aan die uitlating van vrye kalk uit die sementagtige bindmiddel deur sagte water.
Dit lei tot die verswakking van die pypwande en uiteindelik mislukking, met pypbarste en lekkasies wat gereeld voorkom, met 'n beskadigde padoppervlakte van ±15m² per pyp wat bars of lek.
Gepaardgaande skade en herstelwerk is nodig, aangesien die meeste bestaande eksterne waternetwerke onder die padoppervlak aangebring is.
"Die paaie- en strate-instandhoudingsbegroting moet die koste verbonde aan die herstel van beskadigde oppervlaktes absorbeer. Nieteenstaande bogenoemde is daar planne in plek, maar soos hierbo genoem, vermeerder die werklading daagliks, veral nadat dit gereën het."
Die huidige plan vir die herstel van paaie is soos volg:
Slaggatherstelwerk word vir elke Vrydag beplan (dit kan tot Donderdag verleng word indien die behoefte ontstaan) en die huidige volgorde sluit die middedorp, Wyk 1, 3, 4 en 6, De Rust en Dysselsdorp in.
As deel van die padrehabilitasie- en herstelprogram sal die kontrakteur op die volgende paaie konsentreer (Begroting beperk):
- Jan van Riebeeckweg tussen Plein- en Hofstraat
- Cowleylaan tussen Voortrekkerstraat en Langenhovenweg
- Adderleystraat tussen Voortrekkerstraat en Elsstraat
- Hoogstraat tussen Baron van Reedestraat en Van der Rietstraat
- Noordstraat tussen Baron van Reedestraat en Reserwestraat
- Victoriastraat tussen Baron van Reedestraat en Condorstraat
Opeenvolging van pypbarsherstelprogramme van Maandae tot Donderdae:
Span 1:
- Hoek van Buitekant- en Victoriastraat
- Hoek van Noordstraat en Parkweg
- Hoek van Jan van Riebeeckweg and Noordstraat
- Russtraat van Hoogstraat tot Adderleystraat
- Adderleystraat van Kerkstraat tot St. Saviourstraat
- St. Saviourstraat vanaf Baron van Reedestraat tot Jubileestraat
Span 2:
- Olienhoutstraat tussen Karee- en Olyfstraat
- Riemvasmaak fase 1 (12 pypbarste)
- Petunialaan vanaf die N12 tot Bella Rosa-singel
Span 3:
- Kortstraat
- Sunsetweg
- Middelweg
- Jan van Riebeeckweg vanaf Voortrekkerstraat tot Albertstraat
Span 4:
- St. Johnsstraat vanaf Baron van Reedestraat tot Rivierstraat
- Hoogstraat vanaf Voortrekkerstraat tot St. Saviourstraat
- Jan van Riebeeckweg tussen Kerk- en St. Savioustraat
- St. Johnstraat vanaf die rivier tot Parkweg
Collaborator-toepassing
Die publiek word versoek om van die Citizen Collaborator-toepassing of die skakelbord gebruik te maak om enige slaggate te registreer.
"Inwoners moet kennis neem dat hierdie lys onderhewig is aan verandering as groot herstelwerk vereis word wat 'n groot veiligheidsrisiko inhou of 'n rampgebeurtenis plaasvind," het Mle afgesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’