OUDTSHOORN NUUS - 'n Nuwe komitee is gekies tydens die Oudtshoorn-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sektor 3 se maand-vergadering Dinsdagaand, 5 Augustus.
Komiteelede dien op 'n vrywillige basis en is aan die stuur van die sektor se GPF met die plaaslike polisie se ondersteuning.
Die nuwe komitee:
Voorsitter: Fanie Erasmus
Ondervoorsitter: Johan Conradie
Sekretaris: Raynard Smit
Projekleier: Drew Biljon
Media: Louise Mouton
Addisionele lid: Andrew Kuhn
Daar sal op 'n latere stadium 'n tesourier verkies word.
Misdaad
'n Hele paar knelpunte is tydens die vergadering bespreek, waaronder die misdaad in die sakekern wat Hoog-, Kerk-, St John-, en Adderleystrate insluit.
Volgens statistiek vir 7 Julie tot 2 Augustus is 70 sake aanhangig gemaak waarvan 24 sake in die sakekern is.
Bedrog en diefstal is algemeen in die sakekern en word inwoners gemaan om versigtig te wees aangesien selfone ook gereeld gesteel word.
Karwagte en straatkinders bly 'n wesenlike probleem.
Wie is die GPF
Die GPF is 'n vennootskap tussen die plaaslike gemeenskap en die polisie en het ten doel om publieke bewusmaking te skep in terme van gemeenskapsveiligheid en misdaadvoorkoming.
Alle organisasies, nie-regerings-organisasies, gemeenskapsleiers en kerkleiers word aangemoedig om by die GPF aan te sluit.
nNavrae kan gerig word aan Raynard Smit by 081 259 7488 of stuur 'n e-pos aan smitraynard49@gmail.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’