OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-besigheidskamer, in samewerking met Agri Klein-Karoo en Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor, was verlede Donderdagaand se gasheer van die maandelikse netwerkaand.
Die funksie is by Surval Boutique Olive Estate net buite Oudtshoorn aangebied en deur talle sakelui bygewoon.
Tydens die netwerkaand het Abri Ferreira (voorsitter van die Oudthsoorn-besigheidskamer), Tammy Moult (voorsitter van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor) en Laubscher Coetzee (voorsitter van Agri Klein-Karoo) aan sakelui verduidelik wat die rol van die drie instansies in die besigheidsgemeenskap van Oudtshoorn is.
Hannes Visser van Turksvy Publikasies was die gesprekleier. Hy het onder meer gevra hoe hulle gaan saamwerk vorentoe en hoe hulle hul organisasies in 2022 na die pandemie sien ontwikkel.
Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor
Moult het verduidelik dat die toerismekantoor 'n nie-winsgewende organisasie is, wat daarop fokus om Oudtshoorn en De Rust aan buitelanders en vakansiegangers te bemark.
"Die area word as 'n bestemmingsmark gesien en ons wil graag hê dat die toeris en vakansieganger geld hier moet spandeer voordat hulle die dorp verlaat. Dit beteken dat hulle al die besienswaardighede moet besoek, hulle voertuie hier moet opvul voor hulle verder ry en dat selfs koswinkels 'n besoek van hulle moet ontvang."
Moult is baie positief oor die drie organisasies wat hande vat om die dorp vorentoe te dra.
"Ons is deel van 'n gemeenskaplike draad, en die toerismekantoor wil hê dat Oudtshoorn moet floreer, dit is die wortel van sukses."
Oudtshoorn-besigheidskamer
Volgens Ferreira is die besigheidskamer se doel om leiding te gee en om seker te maak dat die nodige geriewe in plek is vir besighede om te floreer.
"Oudtshoorn is baie uniek omdat landbou en toerisme die grootste industrie in Oudtshoorn vorm, daarom is dit noodsaaklik dat die sakekamer hande vat met landbou en toerisme. Ons verstaan mekaar se uitdagings."
Ferreira het ook 'n versoek aan die publiek gerig, dat wanneer hulle kommentaar op sosiale media oor Oudtshoorn lewer, dit positief moet wees.
"Die doel is om positief te wees oor Oudtshoorn sodat mense hier wil belê, hierdie is 'n dorp waar jou kind nog met sy fiets skool toe kan ry."
Die hoogtepunt vir Ferreira was dat Oudtshoorn op 21 April deel gevorm van die Garden Route Business Chamber.
Agri Klein-Karoo
Laubscher het genoem dat die landbou-industrie 'n groot invloed het op die besighede in Oudtshoorn.
"As dit goed gaan met die landbou, vind almal baat daarby. Die droogte het ons die afgelope paar jaar gerem, maar die seisoen het gedraai en ons sien uit na 'n natter nuwe seisoen."
Die ondersteuning wat die landbou-industrie van die minister van landbou, dr. Ivan Meyer ontvang, is ook 'n plus punt vir Oudtshoorn se landbou.
"Meyer het R5 000 000 bewillig vir die sprinkaanplaag wat onlangs die omliggende areas geteister het."
Hy is baie positief oor Meyer en sê dat hy die taal van die mense praat en sy deur oop staan vir Oudtshoorn se landbou-industrie.
Oor hoekom hy voel dat landbou goed gaan saamwerk met die sakekamer en toerisme, is sy gevoel dat die politieke klimaat veroorsaak het dat die drie organisasies saam sal moet werk om sekere dinge in plek te bring om die dorp vorentoe te vat.
Nuwe lede ontvang sertifikate
Vier besighede het ook tydens die netwerkaand hulle sertifikate as nuwe lede van die Oudthoorn-besigheidskamer ontvang:
- Giovanni Bouwer – Karoo Tuin Kwekery
- Kotie Thirion en Jaco van Jaarsveld – Mega Auto Service
- Hannes Visser – Turksvy Publikasies (Pty) Ltd
- Adri en Pieter du Plooy – Piet's Crazy Pets
Vorige Artikel: Oudtshoorn-Besigheidskamer bied gesamentlike netwerkaand aan
Van links is: Hannes Visser, Laubscher Coetzee, Abri Ferreira en Tammy Moult. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'