OUDTSHOORN NUUS - "Ek verstaan nou vir die eerste keer waarom niemand nog ooit 3 500 km op 'n trekker aangepak het nie, maar dit was absoluut die moeite werd."
Hy het egter 'n paar kilometer by sy rit met Rooies, die getroue Mahindra-trekker waarmee hy sy tog aangepak het, gevoeg en 'n totaal van 3 670 km gery.
So vertel dr. André Hattingh, afgetrede neurochirurg en stigter van Pediatric Care Africa, na sy trekkerrit, 'On-Trac-Tor', wat hy vir liefdadigheid gery het. Hy het vanaf Nelspruit gery.
Hattingh het in 2017 die nie-winsgewende organisasie, Pediatric Care Africa, wat help om mediese sorg aan kinders, wie se ouers dit finansieel nie kan bekostig nie, te bied.
Met 'On-Trac-Tor' wou hy die wêreldrekord breek vir die langste trekkerrit, internasionale aandag vestig op grusame plaasmoorde in Suid-Afrika. en om geld in te samel vir behoeftige kinders wat groter en meer ingewikkelde operasies benodig.
Dit het hom 21 dae en 180 ure geneem en volgens hom was dit 'n "epiese trekkerrit".
"Die wêreldrekordregulasies stipuleer dat ek die hele rit van 3 670km deur ses provinsies van Suid-Afrika alleen, sonder hulp moes voltooi, en indien ek enige meganiese probleme ondervind het, net Mahindra my sou kon ondersteun met die regmaak of herstel van die trekker. Dit is dieselfde trekker waarmee ek verlede jaar vir liefdadigheid gery het."
Hattingh vertel dat die rit self fisies uitputtend was omdat die trekker erg skud en dit geweldig op jou spiere en liggaam werk.
"Aan die begin wou ek kyk wat ek kon regkry - gaan ek dit regkry om die rekord te breek en die geld in te samel, maar soos die rit gevorder het, het ek agtergekom dit is veel groter as wat ek gedink het. Die rit het hoop gebring vir baie mense.
"Op dag drie van die rit in Bela Bela vra 'n bejaarde dame of ek asseblief 100 km sal ry ter ondersteuning van haar kleindogter wat chemoterapie ontvang. Ek het belowe om die hele ongeveer 3 180 km wat ek toe nog moes aflê, vir haar kleindogter sal ry. Skoolkinders het langs die pad gestaan en my ingewag om my te verwelkom of te groet.
"Boere het raakgesien wat ek doen, en dankie gesê, dit bring vir ons hoop. Skielik kon ek fisies die mense sien vir wie ek dit doen. Dit het nie net my rekord geword nie, maar almal se rekord, elke kind wat hulp nodig het, elke ondersteuner en elke boer. Vir die eerste keer het ek besef hoe nodig mense 'n bietjie hoop en 'n glimlag nodig het in ons mooi land, miskien meer as medisyne."
Hattingh sê die res van die uitmergelende rit is gery vir elke boer en elke mamma wat vrees vir hulle familie en kinders se veiligheid, hulle toekoms en wat môre gaan bring.
Hy gaan aansoek doen by RecordSetters in Amerika om die wêreldrekordpoging vir ’n afstand van 3 500 km toe te staan.
"Ons hoop dat as ons amptelik die rekord kan breek, dit meer internasionale fokus op die plaasmoorde in ons land sal plaas. Ons wil graag die pleidooi van ons boere wêreldwyd bekendmaak."
Hattingh sê hoewel hy definitief nie weer 3 500 km met trekker sal ry nie is hy solank besig om volgende jaar se trekkerrit van 2 500 km te beplan.
Oudtshoorniete en dokters kan betrokke raak
Hattingh en sy span is op soek na dokters en vrywilligers om betrokke te raak.
Pediatric Care Africa is geregistreer as 'n openbare weldaadsorganisasie (PBO) by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).
Hulle vra die hulp van plaaslike dokters wat kan help om kinders met sekere mediese behoefte te ondersoek.
"Ons het altyd 'n behoefte aan gekwalifiseerde mediese dokters in alle spesialiteite, verpleegpersoneel en laboratoriumpersoneel. Chirurge kan aanbied om vir 'n paar dae of weke in landelike Afrika te kom werk, of alternatiewelik om kinders vir pro bona-operasies by jou eie hospitaal te ontvang waar ons die kind na jou toe vervoer vir behandeling en operasies."
Persone sonder mediese ervaring wat betrokke wil raak kan die webtuiste by www.pediatric-careafrica.org besoek om te kyk hoe hulle kan skenk of help.
Vir meer inligting kontak hulle by on-trac-tor@pediatriccareafrica.org of 076 229 5663.
Vir vorige berigte lees hier:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’