OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen ‘n sakeman van Oudtshoorn wat teregstaan op verskeie aanklagte van verkragting is in die Oudtshoorn-streekhof vir die uitslag van vertoë tot 26 Junie uitgestel.
Die versoek is deur die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, gerig. Sy het die hof meegedeel dat die 'Cybercrime Unit' die stukke het wat die verdediging verskaf het en dat sy die uitslag daarvan met die klaagster wil bespreek, maar weens werkdruk dit nog nie kon doen nie.
Die verdediging het volgens Van der Bergh, tydens voorbereiding van verhoor agtergekom dat die klaagster ongemagtigde toegang tot hul kliënt, sy werkgewer en moontlik gepriviligeerde kommunikasies tussen prokureur en kliënt verkry het om sodoende haar weergawe te kan aanpas.
Die versoek van die staat is nie deur die verdediging teengestaan nie. Volgens Van der Bergh vertrek die beskuldigde voor die volgende hofverskyning vir twee weke na China en is versoek dat sy paspoort vir die doel aan hom terugbesorg word.
Die klaagster is ‘n 32-jarige vrou wat beweer dat sy tussen November 2014 en April 2016 vier keer verkrag is. Die beweerde voorvalle het glo by twee geleenthede in die beskuldigde se huis, een keer in sy kantoor en een keer op die vliegveld plaasgevind.
Hy is nog nie gevra om te pleit nie en sy borgtog van R10 000 wat in September 2017 aan hom toegestaan is, is deur streeklanddros Daniel Boks verleng.
(Die voorafgaande berig is 'n regstelling op 'n berig "Saak tot Junie uitgestel" wat verlede Vrydag 18 Mei, op bladsy 6 in die Oudtshoorn Courant verskyn het. 'n Regstelling word geplaas aangesien die berig van 18 Mei foutiewe inligting bevat het. Redakteur)
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'