OUDTSHOORN NUUS - Danksy die tweede storm in 'n kort tydjie in die Groter Oudtshoorn-distrik is die Raubenheimerdam 100% vol en loop dit vir die eerste keer sedert 2016 oor.
Die storm het, net soos die vorige een op 22 November, groot skade aangerig.
Volgens Ntobeko Mangqwengwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is daar Maandag 38 mm reën in die dam se opvangsgebied gemeet.
"Nog reën het na die meting geval en daar word geskat dat daar tussen 40 mm en 50 mm geval het."
Volgens die uitvoerende burgemeester, Chad Louw, is dit die beste nuus wat Oudtshoorn in 'n lang tyd gekry het, veral na die streek 'n rukkie gelede as 'n droogterampgebied verklaar is.
Daar is ook bevestig dat waterbeperkings moontlik gelig kan word.
Die Stompdrift- en Kammanassiedam het ook vir die eerste keer in jare reën in die opvangsgebied gehad.
Volgens Willie Fourie, bestuurder van die Stompdrift-Kammanassiewatervereniging was die Stompdriftdam Woensdag 19,5% vol en die Kammanassiedam 7%.
VORIGE ARTIKEL: Raubenheimerdam loop oor
Boere vanuit De Rust tot in Calitzdorp ontvang water vanuit die damme.
Volgens Laubsher Coetzee, ondervoorsitter van Agri Wes-Kaap, is dit fantastiese nuus vir boere.
"Die seisoen bring vir ons goeie reën. Ons het die keer meer wydverspreide reën gehad en lekker reën in die berge wat die riviere voed. Die boere kan dus meer water kry vir landerye en diere. Volgens hom het die velde ook goeie reëns gehad."
Die laagwaterbruggie op die Rooiheuwel-pad het Dinsdagoggend vir die eerste keer in jare oorgeloop.
Skade
Die genade reën kom egter nie sonder skade nie. Reg deur Oudtshoorn het inwoners groot skade gely.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, assesseer die munisipaliteit se rampbestuurspan nog skade.
'n Boom het op 'n huis in Duiflaan, Bridgton geval. Foto's verskaf
"Die vloede en haelstorms het enorme skade aangerig en 81 huise is beskadig en 24 bome het omgeval. Die munisipaliteit het 188 klagtes van kragonderbrekings ontvang en daar is baie paaie wat erg beskadig is."
Volgens haar is ongeveer 100 mense dakloos gelaat na hul huise beskadig is.
"Die mense is tydelik in die De Jager-sportkompleks gehuisves. Ons is net dankbaar dat niemand tydens die storms beseer is nie."
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is gerugte dat mense verdrink het onwaar.
"Daar was wel 'n vrou, wat 'n noue ontkoming in Bongolethu gehad het na sy deur stormwater meegesleur is, maar sy is deur 'n man wat naby genoeg was gered."
Ook 'n kerk in Mandelahoogte het groot skade gely toe sy dak in die storm beskadig is.
Die Peace United Outreach kerk in Mandelahoogte se dak het weens die stormweer meegegee.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'