Update
OUDTSHOORN NUUS - Vyf gesinslede het Sondagmiddag naelskraap uit hulle huis in Hoopstraat ontvlug toe twee bloekombome kort na mekaar op die huis geval het.
Die bome is deur 'n stormsterk wind omgewaai.
Volgens Schalk van der Merwe was hy, sy vrou, Ingrid, hulle twee dogters en Ingrid se broer, Christian Badenhorst, Sondagmiddag in die huis toe die wind opsteek en hael begin val.
"Ek het uitgegaan om ons papegaai wat onder die dak van die voorstoep in sy hok was, in te bring. Ek het net met die hok by die voordeur ingegaan toe die bloekomboom die hele stoepdak platval. As ek 'n paar sekondes langer op die stoep was, was ek seker dood."
Hy sê hy en die res van die gesin het by die agterdeur uitgevlug.
"Ek het gou ingehardloop om ons selfone in die huis te kry toe die tweede boom val. Dit was 'n geweldige slag en die hele huis was onder stof. Die boom het reg op die slaapkamer geval waar ons een dogter 'n minuut vroeër was."
Die kant van die huis waarop die tweede boom geval het. Foto's: Hannes Visser
Hulle het hulle honde en die papegaai na veiligheid geneem, maar hulle twee katte was nog soek. Met Oudtshoorn Courant se aankoms by die toneel is die een kat in die huis gevind waar dit weggekruip het. Die ander een het in die gedeelte van die huis waarop die boom geval het weggekruip en het eers Dinsdagoggend ongedeerd uitgekom.
Volgens Van der Merwe het hulle en die bure, op wie se erf die twee bome gestaan het, al verskeie maatskappye genader om die bome af te saag, maar hulle kon niemand kry wat kans sien vir die twee kolosse nie.
Die kant van die huis waarop die tweede boom geval het.
Sy vrou, Ingrid, het gesê die hele ervaring is steeds onwerklik. Volgens haar was 'n assessor van hulle versekeraar Maandag daar en hy het bevind dat die skade aan die huis te groot is om te herstel. Die reën wat Sondagnag en Maandag geval het, het die skade aan die huis vererger.
Die Van der Merwes woon die afgelope ses jaar in die huis, een van die huise in Oudtshoorn waar daar jaarliks Kersliggies in die tuin aangebring word vir inwoners om te bewonder.
Die gang van die huis waar een binnemuur Sondag besig was om onder die gewig van die boom te verbrokkel.
Vorige artikel: Gesin vlug toe boom val
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'