OUDTSHOORN NUUS - Die jongste munisipale rekening het die gemoedere van talle inwoners van Oudtshoorn behoorlik laat kook, ná 'n nuwe R180-basiese heffing op voorafbetaalde watermeters op hul rekeninge verskyn het. Boonop is verskeie inwoners, veral pensioenarisse, bekommerd oor 'n bykomende vullisverwyderingstarief wat ook op sekere eiendomme gehef word.
Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het die afgelope week gereageer op die kommer en verduidelik waarom die heffing deel van die 2025/26-begroting is.
Volgens die munisipaliteit betaal inwoners met konvensionele watermeters reeds lank 'n maandelikse basiese tarief wat gebruik word vir die instandhouding van waterinfrastruktuur soos pype en kleppe. Tot onlangs het gebruikers van voorafbetaalde meters egter nie dieselfde vaste bydrae gelewer nie.
Mle sê die nasionale tesourie vereis dat alle dienste teen koste-reflektiewe tariewe gelewer moet word. Dit beteken dat alle vaste koste soos instandhouding, deur 'n vaste tarief verhaal moet word, terwyl verbruikskoste apart gehef word. Die R180-heffing bring dus voorafbetaalde metergebruikers op gelyke voet met ander gebruikers en help om die dorp se waternetwerk volhoubaar in stand te hou.
Wat dek die heffing?
Die maandelikse R180 word gebruik vir:
- Die herstel en vervanging van verouderde pype en watermeters
- Die voorkoming van waterverliese deur proaktiewe instandhouding
- Die verbetering van waterdruk en -betroubaarheid in beide stedelike en landelike gebiede.
Vullisverwyderingsfooi: Wie betaal en waarom?
Volgens Mle geld hierdie bykomende fooi slegs vir eiendomme wat meer as een wooneenheid huisves. Elke bykomende eenheid op 'n erf, soos woonstelle, betaal 'n ekstra basiese fooi vir vullisverwydering. Hierdie eenhede ontvang in ruil daarvoor ook ekstra vullissakke. Die nuwe vullisbeskikbaarheidstarief is ook van toepassing op leë erwe.
Beleid en goedkeuring
Tydens verlede Donderdag, 31 Julie, se raadsvergadering was daar navrae oor die goedkeuring van hierdie nuwe heffings en daar is beweer dat die heffings nie amptelik deur die raad goedgekeur is nie. Die munisipaliteit het egter bevestig dat beleidsaanpassings en tariewe nie tydens gewone raadsvergaderings in detail bespreek word nie, maar deel vorm van die werk van die begrotingskomitee en beleidswerkswinkels wat gedurende die begrotingsproses gehou word. Tariewe word hier bespreek en aangepas voordat dit finaal ingesluit word in die begroting.
Subsidies vir behoeftiges
Die munisipaliteit het ook bevestig dat behoeftige huishoudings nie benadeel sal word nie. Inwoners wat teen 25 Junie aansoek gedoen het vir die subsidie, sal ná die voltooiing van die verifikasieproses hul volle voordele met ingang van 1 Julie ontvang. Die nuwe proses om te verifieer of jy werklik kwalifiseer vir die voordeel teenoor die gestelde kriteria, het egter langer geneem as verwag, aangesien dit die eerste keer was dat die nuwe stelsel gebruik is. Die munisipaliteit doen alles in sy vermoë om die saak te bespoedig. Dit sluit die volle subsidie van die R180-heffing én 6kl gratis water per maand in.
Volgens Mle het die verifikasie langer geneem as verwag weens die bekendstelling van 'n nuwe stelsel, maar geen kwalifiserende aansoeker sal sy of haar voordele verloor nie.
Die munisipaliteit doen 'n beroep op die publiek om enige verdere navrae oor hul rekening direk by hul kantore of die kliëntedienslyn aan te meld.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’