OUDTSHOORN NUUS - Die jongste munisipale rekening het die gemoedere van talle inwoners van Oudtshoorn behoorlik laat kook, ná ’n nuwe R180-basiese heffing op voorafbetaalde watermeters op hul rekeninge verskyn het.
Inwoners het hul frustrasies op sosiale media uitgespreek en vrae gerig oor die rede vir die bykomende kostes, veral te midde van toenemende lewenskoste.
Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het die afgelope week gereageer op die kommer en verduidelik waarom die heffing deel van die 2025/26-begroting is.
Volgens die munisipaliteit betaal inwoners met konvensionele watermeters reeds lank ’n maandelikse basiese tarief wat gebruik word vir die instandhouding van waterinfrastruktuur soos pype en kleppe. Tot onlangs het gebruikers van voorafbetaalde meters egter nie dieselfde vaste bydrae gelewer nie.
Mle sê die nasionale tesourie vereis dat alle dienste teen koste-reflektiewe tariewe gelewer moet word. Dit beteken dat alle vaste koste soos instandhouding, deur ’n vaste tarief verhaal moet word, terwyl verbruikskoste apart gehef word. Die R180-heffing bring dus voorafbetaalde metergebruikers op gelyke voet met ander verbruikers en help om die dorp se waternetwerk volhoubaar in stand te hou.
Wat dek die heffing?
Die maandelikse R180 word gebruik vir:
• Die herstel en vervanging van verouderde pype en watermeters,
• Die voorkoming van waterverliese deur proaktiewe instandhouding,
• Die verbetering van waterdruk en -betroubaarheid in beide stedelike en landelike gebiede.
Subsidies vir behoeftiges
Die munisipaliteit het ook bevestig dat behoeftige huishoudings nie benadeel sal word nie. Inwoners wat teen 25 Junie aansoek gedoen het vir die subsidie, sal ná die voltooiing van die verifikasieproses hul volle voordele met ingang van 1 Julie ontvang. Die nuwe verifikasieproses om te verifieer of jy werklik kwalifiseer vir die voordeel teenoor die gestelde kriteria, het egter langer geneem as verwag, aangesien dit die eerste keer was dat die nuwe stelsel gebruik is.
Die munisipaliteit doen alles in sy vermoë om die saak te bespoedig. Dit sluit die volle subsidie van die R180-heffing én 6kl gratis water per maand in.
Volgens Mle het die verifikasie langer geneem as verwag weens die bekendstelling van ’n nuwe stelsel, maar geen kwalifiserende aansoeker sal sy of haar voordele verloor nie.
Die munisipaliteit doen ’n beroep op die publiek om enige verdere navrae oor hul rekening direk by hul kantore of die kliëntedienslyn aan te meld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’