OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n vrou van Volmoed wat teregstaan op 'n klagte van moord op haar man, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak tot volgende jaar uitgestel.
Die skraalgeboude Susan Plaatjies (47) word daarvan aangekla dat sy die pa van hul drie kinders, die 45-jarige Kiewiet Plaatjies, die aand van 2 Mei 2018 met 'n mes in die nek gesteek het en hy op die toneel dood is.
Een van die beskuldigde se kinders het deur middel van 'n tussenganger getuig dat hy gesien het hoe sy ma die mes uit 'n rakkie haal en sy pa daarmee steek, maar onder kruisverhoor weer ontken dat hy dit gesien het.
Volgens hom het hy sy ma ook hoor sê dat sy sy pa gaan doodsteek. Hy het daarna baie gehuil oor sy pa.
Plaatjies pleit onskuldig omdat sy nie bedoel het om haar man dood te maak nie en net haarself verdedig het.
Volgens haar was sy erg onder die invloed van alkohol nadat hulle twee die betrokke dag 'n 5 liter Bonniestein met hul "All Pay" gekoop het.
Die oorledene het haar glo van ontrouheid beskuldig waarna 'n stryery ontstaan het. Hy het glo gesê dat hy nie die pa van hul drie kinders is nie en haar met 'n eetvurk gejaag en met 'n klip gegooi.
Hy was volgens haar baie aggressief en toe sy 'n mes in die hande kry het sy na hom gesteek. Volgens haar het sy nie eens geweet dat sy hom raakgesteek het nie en wou hom net weghou van haar.
Rosetta Louw, Plaatjies se vriendin op wie se erf hulle in 'n opslaanhut woon, het getuig dat een van die kinders haar omstreeks drieuur die oggend wakker geklop en meegedeel het dat sy ma nou sy pa doodgesteek het.
Sy het gaan kyk en die oorledene half regop sien sit met bloed wat uit sy neus en mond geloop het. Hy was volgens haar toe reeds dood.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het betoog dat Plaatjies se lewe nie in gevaar was toe sy haar man die noodlottige steekwond toegedien het nie.
Die kind het ook getuig dat sy ma eerste met sy pa begin baklei het
Goulding het vir ten minste 'n skuldigbevinding van strafbare manslag gevra omdat die beskuldigde geen rede gehad het om haar man te steek nie. Plaatjies se regshulpprokureur, Eugene Roos, vra vir haar vryspraak omdat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en is vir uitspraak tot 17 Februarie 2021 uitgestel.
Plaatjies is op waarskuwing.
Vorige artikel: Vrou in hof vir moord
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'