OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van 'n vrou van Volmoed wat teregstaan op aanklag van moord is in die streekhof op Oudtshoorn vir verdere verhoor tot Junie uitgestel.
Die tengergeboude Susan Plaatjies (45) word daarvan aangekla dat sy die pa van hul drie kinders, die 45-jarige Kiewiet Plaatjies, die aand van 2 Mei 2018 met 'n mes in die nek gesteek het. Hy is op die toneel dood verklaar.
Sy pleit onskuldig omdat sy nie bedoel het om hom dood te maak nie.
Die saak is uitgestel na twee van hul kinders deur middel van 'n tussenganger in die hof getuig het.
In 'n pleitverduideliking wat deur haar Regshulpprokureur, Eugene Roos, aan die hof voorgelees is, sê Plaatjies dat hulle die betrokke dag, nadat hulle hul maandelikse toelae ontvang het, 'n 5 liter wyn gekoop en saam gedrink het.
Die oorledene het haar van ontrouheid beskuldig waarna 'n stryery ontstaan het. Hy het glo gesê dat hy nie die pa van hul drie kinders is nie en het haar met 'n vurk gejaag en met 'n klip gegooi. Hy was volgens haar baie aggressief en sy het 'n mes in die hande gekry en hom daarmee gesteek.
"Ek het nie eers geweet dat ek hom raakgesteek het nie en wou hom net weghou van my," lui haar verklaring.
Sy was steeds baie dronk en het die nag tussen bosse naby haar huis geslaap.
Die saak word deur streeklanddros Retha Pretorius aangehoor en sal op 6 Junie voortgesit word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'