OUDTSHOORN NUUS - Peet Vermaak, bekende digter van Oudts-hoorn, het onlangs 'n bewusmakings-inisiatief van stapel gestuur vir 'n rare neurologiese toestand wat onlangs by sy vrou, Maureen (49), gediagnoseer is.
Vermaak vertel dat "Functional Neurologic Disorder" (FND) twee maande gelede by sy vrou gediagnoseer is. FND is 'n toestand wat beïnvloed hoe die brein inligting na die liggaam stuur en ontvang. Dit word gekenmerk deur neurologiese simptome wat nie deur 'n siekte of breinbeserings veroorsaak word nie.
"Ek noem dit 'n onsigbare gestremdheid. FND is 'n komplekse neurologiese siekte wat nie genees kan word nie, maar wel bestuur kan word deur mediese sorg en ondersteuning. Internasionaal word daar baie bewusmakingswerk gedoen oor FND, maar in Suid-Afrika is daar steeds beperkte kennis en begrip oor hierdie toestand."
Volgens hom kan sy met tye glad nie praat of sluk nie, of val goed eenvoudig uit haar hande omdat haar brein skielik ophou om die liggaam te stuur.
Vermaak sê hul pad met FND het ongeveer twee jaar gelede begin toe Maureen gesê het sy sukkel om te sluk en dat dit voel of kos in haar keel vassteek. Sy het vir baie toetse gegaan en daar is bepaal dat daar 'n disfunksie in haar slukderm is. Ongelukkig beskik Vermaak-hulle nie oor 'n mediesefonds nie en word die hele proses deur die staat gedoen.
"Sy het my eendag gebel en ek kon hoor sy praat moeilik. Toe ek by die huis opdaag het dit gelyk of sy besig is om 'n beroerte te kry. Dit was agt maande gelede. Toetse het gewys dat dit nié 'n beroerte is nie. Daar was spekulasies van Bells Palsy en ander siektes, maar niks was konkreet nie. Ons is toe verwys na 'n spesialis in George en hy het haar gediagnoseer met FND."
Vermaak sê hy het besluit om 'n kamp-vegter te word vir dié wat met FND gediagnoseer is, sowel as vir die geliefdes wat hulle bystaan.
"Familie en vriende verstaan nie altyd die aard van die siekte nie, en dit kan isolasie en wanbegrip veroorsaak."
Hy het 'n ondersteuningsgroep genaamd Soos Beloof gestig waar mense inligting oor FND kan bekom en waar hulle deur ander ondersteun kan word. Die groep dien as 'n platform vir mense wie se lewens deur FND geraak word.
Vir verdere navrae of om betrokke te raak by die ondersteuningsgroep, kan Peet gekontak word via WhatsApp by 071 057 0636 of per e-pos by pjsvermaak@outlook.com.
Hy het ook 'n Facebook-groep, Functional Neurologic Disorder (FND) Support Group South Africa, gestig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’