PRINS ALBERT NUUS - Die organiseerders van die 60ste Prins Albert-landbouskou is besig om die stukke op te tel nadat verwoestende stormwinde op Donderdag 3 September groot skade aan die skouterrein en infrastruktuur aangerig het.
Volgens Jean Grundling, tesourier van die Prins Albert-landbouskou, het Liane Rautenbach van WMF Finansiële Adviseurs bevestig dat die versekering wel die skade sal dek.
"Sy het ons geweldig gehelp om die eis afgehandel te kry," het Grundling gesê. Die skade word tans op sowat R172 000 geraam nadat die nodige kwotasies ontvang is.
Met net meer as 'n maand oor voordat die geskiedkundige skou van 15 tot 17 Oktober plaasvind, is 'n BackaBuddy-insamelingsveldtog van stapel gestuur om te verseker dat die nodige herstelwerk betyds voltooi kan word.
Die veldtog het 'n teikenbedrag van R100 000. Grundling sê sowat R36 000 is tot dusver deur die BackaBuddy-veldtog en direkte inbetalings ingesamel.
"Die dak van die Windpomp-kroegarea is reeds vervang. Die dakke van die perdestalle en braai-area moet nog vervang word, maar die belangrikste deel is reeds herstel. Ons moet nou net die afrondingswerk voltooi," het hy gesê.
Vir die landbougenootskap gaan die impak van die storm egter oor veel meer as net beskadigde geboue.
Die genootskap se beskikbare fondse word hoofsaaklik aangewend vir die instandhouding van die skouterrein en die dekking van maandelikse bedryfsuitgawes. Die onverwagte stormskade verteenwoordig dus 'n beduidende finansiële terugslag.
"Die skouterrein is 'n belangrike plek waar plaaslike besighede, boere en gemeenskapslede kan saamkom, produkte verkoop, diere vertoon en saam feesvier," sê Grundling.
Volgens hom speel die skou ook 'n belangrike rol in die plaaslike ekonomie.
"Die skou lok besoekers, verskaffers, stalletjiehouers en vee-agente van oral en dra geweldig baie by tot toerisme en inkomste in Prins Albert."
Met die 60ste skou wat al hoe nader kom, word daar nou gefokus op die herstel van die skade en om te verseker dat die landbouskou steeds vanjaar as 'n belangrike hoogtepunt op Prins Albert se gemeenskapskalender kan plaasvind.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’