PRINS ALBERT NUUS - Of die 60ste Prins Albert-landbouskou vanjaar soos beplan sal voortgaan, hang in die weegskaal nadat verwoestende stormwinde groot skade aan die skouterrein en infrastruktuur aangerig het.
Dakke is afgeruk, mure het omgewaai en stalle en ander toerusting is beskadig tydens die storm op Donderdag 3 September oor die gebied. Die skade beloop na raming sowat R130 000.
Met net meer as 'n maand oor voordat die geskiedkundige 60ste Prins Albert-land-bouskou van 15 tot 17 Oktober plaasvind, is 'n BackaBuddy-insamelingsveldtog nou van stapel gestuur in 'n poging om die terrein betyds te herstel. Die veldtog het 'n mikpunt van R100 000.
Die skade kom op 'n tyd wanneer Prins Albert reeds swaar gebuk gaan onder die gevolge van die verwoestende vloede en die sluiting van Meiringspoort.
Die impak op toerisme, plaaslike besig-hede en landbou word reeds gevoel, met die ompad oor die Swartbergpas na die Tuinroete wat verdere uitdagings vir die dorp skep.
Jean Grundlingh, tesourier van die Prins Albert-landbouskou, sê hoewel daar versekering op die geboue is, dek dit nie al die skade nie.
"Die omvang van die skade beloop so R130 000 om alles net weer te kry soos wat dit was.
"Daar is versekering op die gebou, maar dit dek nie alles wat beskadig is nie, onder andere die stalle."
Volgens Grundlingh sou 'n assessor Dinsdag 8 September die terrein besoek, maar kon dit nie gebeur nie nadat die assessor volgens beskikbare inligting in 'n motorongeluk betrokke was.
Dit plaas verdere druk op die organi-seerders, aangesien die terrein so spoedig moontlik herstel moet word. 'n Troue word reeds oor twee weke op die skouterrein aangebied.
Geen diere is tydens die storm beseer nie, aangesien diere slegs gedurende skoutyd op die terrein aangehou word.
Grundlingh beklemtoon dat die datum van die skou tans nog nie verskuif is nie en dat hulle vol vertroue is dat die BackaBuddy-veldtog se mikpunt betyds bereik sal word.
Vir die landbougenootskap gaan die skade egter oor veel meer as 'n paar beskadigde geboue.
Met die beskikbare fondse wat hoofsaaklik aangewend word vir die instandhouding van die terrein en die dekking van maandelikse bedryfsuitgawes, is die stormskade 'n enorme finansiële terugslag.
"Die skouterrein is 'n belangrike plek waar plaaslike besighede, boere en gemeen-skapslede kan saamkom, produkte verkoop, diere vertoon en saam feesvier," sê Grundlingh.
"Die skou lok ook besoekers, verskaffers, stalletjiehouers en vee-agente van oral en dra geweldig baie by tot toerisme en inkomste in Prins Albert."
Prins Albert-burgemeester, Linda Jaquet, sê die landbouskou is reeds 60 jaar deel van die hartklop van die dorp.
"Dit betrek die hele gemeenskap en dra terselfdertyd by tot die dorp se ekonomie."
Volgens Jaquet plaas die sluiting van Meiringspoort en die gevolglike ompad oor die Swartbergpas reeds groot druk op die alledaagse lewe, toerisme, besighede en landbou.
"Dit het baie mense moedeloos gelaat. Dit is juis nou, terwyl ons dorp reeds onder druk is, dat die skou se bydrae tot ons ekonomie en gemeenskapsgees broodnodig is. Landbou dra geweldig baie by tot ons dorp se ekonomie. Ek ondersteun elke poging om hierdie geleentheid aan die gang te hou."
Skandeer die QR-kode vir die BackaBuddy-veldtog
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’