Dit het aan die lig gekom nadat die Oudtshoorn Courant gereageer het op 'n brief en foto's wat deur Oudtshoornbelastingbetalersvereniging (OBV) aan die Courant en die munisipaliteit gestuur is.
In die brief word daar verwys na onveilige riooltenks, oop kragaansluitings en die swak toestand van 'n ablusieblok. Op navraag het die munisipaliteit telefonies laat weet dat hulle betrokkenheid by die ovaalbaanterrein beperk is tot die lewering van elektrisiteit tot by 'n sekere punt.
Dirk van der Westhuizen, die voorsitter van die Oudtshoorn-motorklub het die Oudtshoorn Courant gister na die terrein genooi en uit die besoek is dit duidelik dat die probleme wat deur OBV aan die munisipaliteit uitgewys is nie bloot deur agterlosigheid veroorsaak is nie.
'n Kragboks vanwaar 'n kabel aangelê is om 'n pomp aan te dryf tydens byeenkomste is sedert die laaste wedren oopgebreek en vernietig. 'n Riooltenk agter een van die ablusieblokke is duidelik deur vandale verniel.
Groot klippe is op die tenk gegooi en die deksel is verwyder en in die veld gegooi. "Dis 'n nuwe tenk wat ons ingegrou het omdat die ander toilette van 'n oop rioolstelsel gebruik maak. As ons geld beskikbaar het sal ons ook daardie ongesonde stelsel met 'n tenk vervang," verduidelik hy.
Hy wys ook hoe vandale die uitsaaigebou en snoepie verniel het en noem dat elektriese drade en selfs heiningdrade gereeld afgeknip word.
"Die baan self waarop gejaag word is een van die bestes in die land," sê hy trots, "maar ongelukkig is die fasiliteite buite die baan seker die swakste in die land, want ons het eenvoudig nie die fondse om dit te verbeter nie".
Die stuk grond waar die ovaalbaan geleë is behoort aan die munisipaliteit en word deur die motorklub gehuur. "Die feit dat die baan so ver buite die dorp geleë is maak dit moeilik. Die meeste ovaalbane regoor die land is op die dorp se skouterrein geleë en hulle fasiliteite is dus baie beter."
Van der Westhuizen noem dat die motorklub verantwoordelik is vir alle instandhouding en dat dit finansieel moeilik is. "Ons is die kleinste motorklub in die land en ons befondsing kom grootliks van die Klein-Karoo-kampioenskappe wat ons elke jaar in Junie aanbied. Dit is die grootste byeenkoms van sy soort in die land, en selfs nadat ons al ons kostes vir daardie byeenkoms gedek het is die wins nie genoeg om alles te dek wat gedoen moet word nie." Fietsryers gebruik die baan ook gereeld, veral in die winter, om te oefen.
Die Oudtshoorn Courant het gister 'n navraag aan die munisipaliteit en aan OBV gestuur waarin gevra word of geld beskikbaar is om die infrastruktuur by die ovaalbane op te knap aangesien Oudtshoorn een van slegs twee ovaalbane in die hele Suid-Kaap/Karoostreek het. Die ander een is in George.
Dirk van der Westhuizen, voorsitter van die Oudtshoorn-motorklub by die ovaalbaanterrein waarvan die renbaan as een van die bestes in die land beskou word, maar die fasiliteite rondom die baan 'n groot kopseer inhou. Foto's: Hannes Visser