OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Rotariërs het op Donderdag 1 Augustus amptelik die opgegradeerde Nomonde Crèche in Bongolethu geopen, 'n projek wat oor twee jaar gestrek het en R1,1 miljoen gekos het.
Volgens Lezelma Pretorius van die Oudtshoorn Rotariërs is die omvangryke opknappingswerk moontlik gemaak met die ruim ondersteuning van die Wilde Ganzen Foundation en Stedenband Oudtshoorn van Nederland.
"Hierdie kinders in die Bongolethu-gemeenskap kry nou 'n beter kans om te leer en te ontwikkel in 'n stimulerende en veilige omgewing," het Pretorius gesê.
Die verbeterings sluit in die bou van nuwe klaskamers wat opgehelder is met kleurvolle en vrolike muurskilderye, 'n nuwe kombuis, 'n opgegradeerde speelterrein en 'n splinternuwe afdak om beskutting teen die son en reën te bied. Daarbenewens is 'n groot krat Duplo-blokkies aan die skool oorhandig.
Die skoolhoof, Liezl Mapho, het haar diepe dankbaarheid teenoor die Rotariërs uitgespreek. "Ons is ongelooflik dankbaar vir die moeite en toewyding wat hulle aan ons skool en kinders gewy het.
"Hierdie opgraderings sal 'n blywende impak hê."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’