OUDTSHOORN NUUS - Die nasionale adjunkminister van menslike nedersetting, Tandi Mahamehlala, het Oudtshoorn Vrydag 13 Junie besoek vir die oorhandiging van onder andere nuwe huise wat die ou modderhuise in Bongolethu vervang.
Oudtshoorn-onderburgemeester, Zoë Mziwoxolo Tyatya, en speaker, Suzane Jansen, het die verwelkoming gedoen.
Die program het afgeskop met 'n inligtingsessie in die raadsaal waar Lauren Jones, bestuurder van menslike nedersettings by Oudtshoorn-munisipaliteit, 'n oorsig oor die projek gegee het. Altesaam 11 huise is oorhandig.
Mahamehlala het die noodsaaklikheid van behuising beklemtoon, asook eienaarskap van huise. Tyatya het reflekteer op die diep historiese belangrikheid van die ontwikkeling, "dit is meer as net 'n konstruksieprojek, dit verteenwoordig waardigheid en lewens wat verbeter word".
'n Totaal van 25 families sal eventueel voordeel trek uit die behuisingsprojek in Bongolethu.
Agtergrond
'n Aantal erwe is in Bongolethu voor 1994 aan individue oorhandig, deur die jare het sommige hul eiendom ontwikkel terwyl ander ontwikkel is met modderhuise, wat onveilige woontoestande tot gevolg gehad het.
In 2017 is kommer hieroor uitgespreek en onder die aandag van die department menslike nedersetting gebring. 'n Ingenieursondersoek het bevind dat 18 van die modderhuise gesloop moet word, sewe was leeg en 73 het dringende herstelwerk benodig. Geaffekteerde eienaars het toestemming verleen vir huise wat gesloop moes word.
Die erwe kom voor in verskeie strate in Bongolethu, 'n ten volle gedienste residensiële woongebied.
Na afloop van gesprekke met die gemeenskap en verifikasie is die Bongolethu-projek aangepak.
In 2023 is die formele aansoeke, huisplanne en titelaktes ingedien vir verwerking.
Tot op hede is 25 huise gebou waarvan 11 oorhandig is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’