OUDTSHOORN NUUS - Die brand in Spieskamp, wat Vrydagaand die lewe van 'n 23-jarige vrou geëis het, het drie opslaanstrukture verwoes en drie gesinne haweloos gelaat.
Vorige artikel: Vrou sterf in brand
Sandra van Niekerk was alleen in die opslaanhuis toe dit Vrydagaand omstreeks 20:00 aan die brand geraak het. Volgens inwoners het die brand baie vinnig versprei en hulle kon nie keer dat dit twee aangrensende strukture ook vernietig nie.
Hulle kon egter daarin slaag om te keer dat die brand na 'n gebou links van die oorledene se plek versprei maar kon haar nie red nie.
Volgens die oorledene se ma, Magda (60), was sy en haar kleindogter van ses nie by die huis toe die brand uitgebreek het nie.
"Ons weet nie wat die brand veroorsaak het en presies waar dit uitgebreek het nie," het een van die vroue wat die bedroefde Sandra ondersteun het, gesê.
As gevolg van die afstand vanaf Oudtshoorn tot by Spieskamp wat op die grottepad geleë is, was die strukture reeds vernietig met die aankoms van die brandweer.
Raymond Wildschut, raadslid van die wyk, was Saterdagoggend ook op die toneel waar hy reëlings getref het dat materiaal vir tydelike strukture aan die drie gesinne verskaf word.
"Die materiaal is klaar gereël, maar die terrein moet eers skoongemaak word en ons moet wag dat die wind bedaar voordat daar met die oprigting van tydelike huisvesting begin kan word," het hy gesê. Hy was egter vol vertroue dat die gesinne teen Woensdag weer blyplek sou hê. Hy het ook onderneem om vas te stel wat van die planne vir huise geword het wat sowat vier jaar gelede met groot gebaar deur Piet Lodder en die vorige minister van behuising aangekondig is. Daar is op daardie stadium gesê dat grond bewillig is waarop 'n hele aantal huise opgerig sou word. Tot dusver het daar nog niks gebeur nie.
Magda van Niekerk (tweede van links) by inwoners wat haar Saterdag ondersteun het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'