Hy was Woensdagaand omstreeks 20:40 op sy motorfiets onderweg in Baron van Reedestraat toe 'n Toyota Fortuner voor die Paljas Restaurant uit 'n parkeerplek ry en hy die voertuig aan die voorkant tref. Zander is op die toneel behandel en na die Oudtshoorn-hospitaal geneem waar dokters gespook het om sy lewe te red, maar hy is ongeveer 22:00 in die hospital oorlede.
Zander se pa, Christo (Zantie), wat Donderdagoggend steeds erg geskok was, het gesê dat die motorfiets feitlik splinternuut was.
"Ek het dit vir hom vir sy verjaardag in September gekoop. Dit was nog nie eens op my naam nie. Joppie Fourie en nog 'n vriend van my het by Swiss Bistro gesit toe hulle die slag hoor. Toe hulle sien dis my seun het hulle my gebel. Hulle het by hom gesit en sy hand vasgehou tot die ambulans hom weggeneem het. Toe ons by die toneel kom was hy reeds hospitaal toe. Jean is in 'n vreeslike toestand oor sy boetie. Die bakkie was gepak en als. Zander sou vir twee dae by die skool afgevat het sodat hulle by hul ma kon gaan kuier. Hulle sou 06:00 gery het," vertel 'n erg geskokte Zantie.
Joppie vertel dat hulle die slag gehoor het en by die kroeg uitgestorm het.
"Dit was vreeslik. Ons het eintlik op die toneel al gesien hy gaan dit nie maak nie. Hy het gesukkel om asem te haal en sy maag het geswel. Dit moes 'n helse slag gewees het, want sy valhelm het byna 50 m van hom af gelê. Toe ons sy pa bel het ons hom gesê sy seun was in 'n ongeluk en dinge lyk op die stadium nie goed nie," vertel hy.
Vriende het op Facebook ook boodskappe van medelye gestuur.
Pierré Jordaan het ondermeer die volgende op Hoërskool Oudtshoorn se blad geskryf: "'n Struisie-seder het geval. Zander: Die mooi herinneringe van jou gaan altyd in jou maats en mede-Struisies se harte voortleef. Rus in vrede jongman-Struisie!"
Sy vriendin Ashleigh Wright het Donderdag by die skool van sy dood uitgevind. Sy het op sy eie muur die volgende geskryf: "R.I.P engel*!! Ek enj veraltyd*!!! Sal jou noooit vergeet ni dankie vi al di goeie herinerings sal altyd liej bly vjo*!!!"
Coenie de Vos, Hoërskool Oudtshoorn se hoof sê Zander wat in gr. 9 was, was 'n kranige sportman met mooi maniere. Hy het die afgelope naweek eerste in die hoogspring gekom en het ook vir die eerste rugbyspan gespeel.
"Ek het Donderdagoggend vir my leerders gesê ek bid elke dag dat ek nooit die boodskap aan hulle oor 'n medeleerder moet oordra nie. Dit is 'n groot skok en ons dink baie aan die familie."
Die bestuurder van die Fortuner en die drie passasiers is slegs lig beseer. Volgens sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, word 'n klag van strafbare manslag ondersoek.

Zander van der Zandt (16) is Woensdagaand in 'n ongeluk dood. Hy het met sy motorfiets gery en die voorkant van 'n Fortuner getref.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtsrhoonr, Klein-Kroo nuus'