Update
OUDTSHOORN NUUS - Die borgtogaansoek van Magdaleen Titus is vandag vir uitspraak na volgende Donderdag uitgestel.
Titus word daarvan aangekla dat sy, saam met ander beskuldigdes haar man, Preston Titus, die nag van 1/2 Desember 2017 vermoor het.
Adv. Michelle Weyers, wat vir die staat optree, sowel as Joshua Greeff, wat vir Titus optree, het hul slotbetoë vandag aan die hof voorgelê.
Volgens Greeff het die staat nie 'n Prima Facie saak teen Titus nie, omdat hul saak grootliks op die bekentenis van Sixabiso Klip, die eerste verdagte wat reeds gevonnis is, gestaaf is.
Hy het verder gesê dat die selfoonrekords bloot aandui dat Titus die nag van die moord by haar woning in die weermagkamp was en dat dit nie beteken dat sy iets met die moord te doen gehad het nie.
Weyers het betoog dat die staat wel 'n Prima Facie saak het omdat daar WhatsApp-boodskappe van Natasha Stuurman, 'n mede-beskuldigde, is waarin sy aanvoer dat Titus die meesterbrein agter haar man se dood is.
Sy het verder gesê daar is ondermeer ook video-opnames en foto's wat hulle saak versterk.
Weyers het ook betoog dat die gemeenskap se belang swaar weeg in die saak omdat die persone wat die petisies teen borgtog vir Titus geteken het, nie net inwoners van Dysselsdorp en Oudtshoorn is nie.
Na afloop van vanmiddag se hofverrigtinge het Leon Campher namens die gemeenskap 'n memorandum aan die polisie oorhandig waarin hy eis dat generaal Oswald Reddy hulp aan ao. Martin le Roux, 'n ondersoekbeampte in die saak, moet verleen.
"Dit is van kardinale belang dat die ondersoekbeampte alleen op die saak moet fokus. Hy het tans ongeveer 80 ander sake waaraan hy werk en kan dus nie sy onderverdeelde aandag aan dié saak skenk nie."
Volgens Campher het hy aan die begin van die saak reeds met genl. Reddy gepraat en was daar vir twee dae 'n ondersoekbeampte van George afgevaardig, maar het daarna nog nie weer kom help nie. Ellen Prins, 'n ANC-parlementslid, het vir 'n kopie van die memorandum gevra sodat sy dit aan minister Bheki Cele, die nuwe minister van polisie, kan oorhandig.
Lees die volledige berig in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
Lees vorige artikels
- Borgtogaansoek steeds aan die gang
- Weermagmoord: Gerugte oor arrestasie onwaar
- Polisgeld dalk moordmotief
- ANC skors Magdaleen Titus tydelik
- Opvolg: Magdaleen Titus-borgtogaansoek
- Weermagmoord: Borgtogaansoek duur voort
- Weermagmoord: Borgaansoek vandag in hof
- Weermagmoord: Borgtog aan Mooi geweier
- Weermagmoord: Hofsaak uitgestel
- Sterk polisie-teenwoordigheid by borgtogaansoek
- Weermagmoord: Verdagte nader koerant
- Preston Titus met 3rde poging vermoor
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'