Update
OUDTSHOORN NUUS - Geen klag word ondersoek na 'n huis gistermiddag in Rosebank afgebrand het nie.
Die oorsaak van die brand is ook nie bekend nie.
Die Oudtshoorn Courant was gistermiddag op die toneel toe brandweermanne reeds besig was om die brand te blus.
Volgens omstanders op die toneel was daar 'n vrou binne-in die huis wat deur bure by 'n venster uitgehelp is. Sy is later deur vriende na die hospitaal geneem. Dit is nie bekend of sy in die brand beseer is nie,
Een van die persone op die toneel het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat inwoners van Rosebank gehelp het om van die besittings uit die huis te dra en die vuur te blus.
Terwyl die joernalis op die toneel was het 'n bakleiery 'n hele ent van waar die huis afgebrand het ontstaan. 'n Man wat by die bakleiery betrokke was, het beweer dat mense hom aangerand het omdat hulle hom daarvan verdink het dat hy besittings uit die huis gesteel het. Hy is in die proses met 'n skerp voorwerp in die nek gesteek. Dit is egter nie bekend wie die persoon is wat hom aangerand het nie.
Volgens die man, wat verkies het om nie sy naam te noem nie, was hy wel by die huis, maar was hy een van die omstanders wat gehelp het tydens die brand.
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het gesê dat daar geen klag oor die brand of die aanranding by die polisie aangemeld is nie.
Die huis in Rosebank wat afgebrand het.
Brandweermanne op die toneel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'