Update
OUDTSHOORN NUUS - Ná 'n ernstige rioolstorting wat op 18 Julie die Grobbelaarsrivier besoedel het, het Oudtshoorn-munisipaliteit 'n omvattende noodaksieplan in werking gestel om die omgewing te rehabiliteer en verdere skade te voorkom.
Die voorval, wat deur vandalisme aan kritieke rioolinfrastruktuur veroorsaak is, het ernstige omgewings- en gesondheidsrisiko's tot gevolg gehad.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die munisipaliteit, het die aanvanklike verstopping naby die nuwe Klein Karoo Markt-ontwikkeling ontstaan, waar 'n poging tot diefstal van staalversterking uit 'n mangatdeksel gelei het tot 'n versperring in die uitvalrioollyn langs Langenhovenweg.
Die diepte (meer as 5 m) en omvang (630 mm) van die pyp, sowel as die hoë vloeitoestande, het dit vir munisipale spanne onmoontlik gemaak om die situasie met standaard toerusting op te los.
Spesialiskontrakteurs is onmiddellik ingeroep. Volgens Chris Swart, senior bestuurder van water en riool, is 'n tydelike omleiding geïnstalleer en verskeie pompe gebruik om die vloei te beheer. "Die herstel van die rioolfunksie is uiteindelik teen die vroeë oggendure van 30 Julie voltooi," sê Swart.
Swart bevestig ook dat beperkte rioolvloeistof tydens piekvloeiperiodes wel in die rivier beland het, maar dat dit onmiddellik by die betrokke owerhede en die publiek aangemeld is.
Omgewingsimpak en rehabilitasie
Munisipale omgewingsbeampte, Ambrose Carelse, het beklemtoon dat langtermyn-watergehaltemonitering en rehabilitasie nou geprioritiseer word. "Die rivier is 'n ekologies sensitiewe gebied en 'n noodsaaklike waterbron vir landbou. Ons fokus is nou om die veiligheid van mense, vee en die omgewing te verseker."
'n Plaaslike boer stroomaf het reeds die dood van vee gerapporteer wat vermoedelik besmette rivierwater gedrink het. Biologiese monsters is geneem en ondersoeke duur voort.
Drieledige herstelplan
Die munisipaliteit het 'n hersteloperasie van drie fases van stapel gestuur:
Fase 1: Opruiming van vaste afval en plantegroei
Spanne van verskeie munisipale afdelings is besig met die handverwydering van besmette materiaal en plantegroei langs die rivieroewer.
Fase 2: Watergehaltemonitering
'n Minimum drie weke lange toetsprogram is begin, insluitend monitering van E. coli en ammoniak vlakke. Dit sal bepaal wanneer dit veilig is vir boere om weer rivierwater te gebruik vir vee en besproeiing.
Fase 3: Moontlike damvloei-intervensie
'n Beheerde vrystelling van water uit 'n nabygeleë dam word oorweeg om besoedeling af te spoel en die rivier te herstel. Hierdie proses is onderhewig aan toetsresultate.
Voorkoming
Om soortgelyke voorvalle in die toekoms te voorkom, het die munisipaliteit 'n kapitaalprojek van stapel gestuur vir die installering van vandaal bestande mangatdeksels in hoërisiko-gebiede gedurende die 2025/26-boekjaar.
Die totale koste van die noodreaksie word op sowat R1 miljoen geraam, dit sluit kontrakteurs, pomp- en toerustinghuur, tydelike elektrisiteit en sekuriteit in.
Munisipale bestuurder, Mkhululi Yekani, het inwoners versoek om kontak met die rivier te vermy tot verdere kennisgewing.
"Gebruik van rivierwater vir enige doeleindes is tans gevaarlik en word ten sterkste ontmoedig totdat amptelike resultate veiligheid bevestig," het hy gesê.
Hy voeg by dat die munisipaliteit, in samewerking met die departement van omgewingsake, water en sanitasie, en ander relevante agentskappe, alles in hul vermoë doen om die rivier veilig en bruikbaar te herstel.
Die munisipaliteit doen 'n beroep op die publiek om enige vorm van vandalisme of verdagte aktiwiteit rondom rioolinfrastruktuur aan te meld. Hulle het ook belowe om deurlopende en deursigtige kommunikasie aan inwoners te verskaf soos verdere inligting en toetsuitslae beskikbaar word.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’