OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het die afgelope twee weke ernstige probleme met 'n verstopping in 'n hoofrioollyn tussen die brug naby Klein Karoo Markt en Langenhovenweg ondervind.
Die blokkasie het tot gevolg gehad dat riool in die Grobbelaarsrivier gevloei het, wat tot ernstige skade in omliggende landbougebiede, veral in die Welgeluk-omgewing, gelei het.
Teen Woensdagoggend, 31 Julie, was die probleem grootliks opgelos, maar het daar steeds 'n dun straaltjie riool in die rivier ingeloop.
Volgens Chris Swart, senior bestuurder van water en sanitasie, sal 'n formele verslag oor die omvang van die situasie teen die einde van die week beskikbaar wees.
Laubscher Coetzee, voorsitter van Agri Wes-Kaap, het Woensdagoggend gesê hy is in kennis gestel van 'n plaasboer wie se skape gevrek het nadat hulle van die besoedelde rivierwater gedrink het. Oudtshoorn Courant het verneem dat daar wel toetse laat doen is om te bevestig dat die riool in die water die oorsaak van die vrektes was, maar dat dit 'n tydjie gaan neem vir uitslae om beskikbaar te wees.
Volgens Coetzee word die water in slote opgevang vir besproeiing en vee drink daarvan.
"Dit hou nie net 'n gesondheidsrisiko vir die diere in nie, maar ook vir mense wat moontlik daarmee in aanraking kom."
Coetzee het ook beklemtoon dat voorvalle soos hierdie ernstige gevolge vir landbou kan inhou en dat boere onnodig skade ly.
"Die situasie moes vroeër aangespreek word. Daar is toerusting beskikbaar wat so 'n situasie kan help oplos en keer," het hy gesê.
Nog 'n boer in die gebied, wat die rivierwater vir die besproeiing van lusern gebruik het, het gewaarsku dat die lusern moontlik nou 'n gesondheidsrisiko vir vee inhou. Volgens hom sal die grond weer voorberei en bewerk moet word voordat dit veilig is vir gebruik.
Burgemeester Johan Allers het Dinsdag 29 Julie saam met 'n span senior munisipale beamptes die area besoek en vergader met boere, onder wie Ryan Lipschitz en Cornel Landman, om die omvang van die skade te bepaal en oplossings te bespreek.
Só sê die burgemeester
Christo Vermaak, waarnemende woordvoerder van die burgemeester, het bevestig dat Allers, saam met die munisipale bestuurder Mkhululi Yekani, direkteur van tegniese dienste Justin Lesch, Swart, en omgewingsgesondheid- en erfenisbeampte Ambrose Carelse, die vergadering bygewoon het.
Volgens Vermaak is die blokkasie op 19 Julie vir die eerste keer aangemeld. Vandalisme en diefstal van staalversterkings in mangatdeksels het daartoe gelei dat sement, beton en groot klippe in die pyp beland het.
Daar is ook ander items in die pyp gevind, soos 'n voertuigband, 'n skaapkop en selfs 'n verfdrom, wat die herstelpogings bemoeilik het.
Volgens Allers het spanne vir die afgelope twee weke dag en nag om die beurt gewerk om die probleem sou gou moontlik op te los.
"Daar gaan ook beslis kriminele klagtes ingedien word. Die munisipaliteit, sowel as boere in die omgewing het astronomiese skade weens die vandalisme gely," het hy gesê.
Herstelwerk het onmiddellik begin nadat die omvang van die skade bepaal is. Die burgemeester is op 22 Julie ingelig dat rioolwater in die Grobbelaarsrivier beland het, en het die toneel saam met amptenare besoek.
Hy het opdrag gegee dat alle moontlike maatreëls in plek gestel word om verdere besoedeling van die rivier te keer.
Die pad vorentoe
Allers het die publiek verseker dat daar reeds daadwerklik gewerk word aan 'n volhoubare oplossing om soortgelyke voorvalle in die toekoms te voorkom.
Hy het Woensdag bevestig dat daar steeds 'n klein stroompie riool in die rivier inloop, maar dat die munisipaliteit hard werk om die probleem teen die einde van die week finaal op te los.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’