Update
OUDTSHOORN NUUS – "Die tyd het aangebreek dat ons beklemtoon dat die vordering van ons leerders by Hoërskool Oudtshoorn ondermyn word deur herhaalde manifestasies van rassisme en rassediskriminasie."
So lui die inleiding van die memorandum wat ontevrede ouers Woensdagoggend aan die skoolhoof, Gerrit Rudolph, oorhandig het. Volgens die ouers is hul kinders glo toelating tot die skool geweier.
Die ouers, onder leiding van Suwayna Avontuur, sê dat een van haar kinders aanvanklik ook nie toegelaat is by dié skool nie, maar dat sy die kwessie na die Wes-Kaapse LUR vir onderwys geneem het, wat later die besluit omgekeer het.
Avontuur se kind is toe as gevolg van hierdie besluit as 'n leerder van Hoërskool Oudtshoorn aanvaar.
Tydens die oorhandiging van die memorandum het Avontuur onder luide applous gesê dat die argument dat haar kind, tesame met talle ander kinders van kleur, nie die spertyd vir registrasie by die skool gehaal het nie en dus afgekeur word, van alle waarheid ontbloot is.
"Ek het persoonlik reeds in Maart aanlyn aansoek gedoen vir toelating, juis omdat ek vroeg wou wees om teleurstelling te voorkom. My kind is egter sonder enige geldig rede afgekeur, wat ek onaanvaarbaar vind. Die algemene gevoel onder my en die ouers is dat die skool spesiaal plek vir wit kinders hou. Ek daag mnr. Rudolph uit om die teendeel te bewys," het sy gesê.
Hierop het Rudolph geantwoord dat hy wel vir Avontuur kan wys dat wit leerders ook afgekeur is.
Avontuur het ook 'n emosionele leerder van kleur wat saam met sy pa by die betoging teenwoordig was, as voorbeeld gebruik van hoe die skool volgens haar, na persoonlike voorkeure, leerders toelaat.
Dié leerder ter sprake is later dieselfde dag volgens Avontuur, in 'n verrassende wending, wel as leerder van Hoërskool Oudtshoorn toegelaat.
Die hoofsweep van die ANC in die Oudtshoorn-munisipale raad, Zoe TyaTya, het tydens sy spreekbeurt gesê dat as voormalige swart leerder van dié skool, hy presies weet hoe dit voel om rassisme aan sy eie bas te ervaar.
Volgens hom is die feit dat die skool se beheerliggaam en onderwysers uit bitter min ouers van kleur bestaan, 'n bewys dat die skool steeds vasklou aan apartheidstradisies.
TyaTya het in dieselfde asem beklemtoon dat onderrig 'n reg is, en nie 'n voorreg is nie.
"Ouers het die reg om te besluit by watter skool hy sy kind wil inskryf. Nie alle ouers van kleur wil noodwendig hul kinders by tradisionele skole van kleur soos Fezekile Hoërskool of Bridgton Sekondêr inskryf nie. Die skool se houding teenoor swart ouers en leerders in hierdie verband is blatante diskriminasie," het hy gesê.
Memorandum
Klagtes in die memorandum sluit in rassistiese boelie-insidente waar onderwysers nie optree nie, die uitsluiting van swart leerders, taaldiskriminasie en dat die skool se beheerliggaam en onderwysers nie verteenwoordigend is van die skool se demografie nie.
"Ons doen 'n beroep op die skool om meer empatie en bedagsaamheid teenoor die lot van ons leerders te toon. Die skool moet voortaan ook toewyding toon aan die waardes van ons grondwet in die bou van 'n verenigde en nie-rassige onderwysstelsel. As ouers, onderwysers en leerders moet ons saamwerk om bewustheid oor die plaag van rassisme en rassediskriminasie in ons skole en die breër samelewing te bevorder. Dus doen ons 'n beroep op die skool om ons swart studente toe te laat om te registreer sonder enige verdere vertraging vir die 2023 akademiese jaar," lui die memorandum.
Volgens die memorandum word die skool sewe dae gegee om op dié brandende kwessies wat geopper is, te reageer met omvattende antwoorde.
WKOD
Die Wes-Kaapse department van onderwys het by monde van Bronagh Hammond gesê dat dié skool se beheerliggaam verantwoordelik is vir toelatingsbesluite.
"Die skool het wel drie bykomende leerders toegelaat ná die formele appèlproses. Die departement het ook ondersteuning gebied om 'n bykomende klas by te voeg, maar het eerder alternatiewe plasing vir die oorblywende leerders gereël. Ons is nou almal gefokus op 'n mediumtermynplan om toelatingsdruk in Oudtshoorn te hanteer en Hoërskool Oudtshoorn het daartoe verbind om deel van hierdie plan te wees."
Vorige artikel: Ouers betoog voor Hoërskool Oudtshoorn
Slegs 'n handjie vol ouers het vanaf 07:00 Woensdagoggend opgedaag om die betoging te steun. Die groep betogers het egter twee ure na die tyd drasties gegroei.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'