OUDTSHOORN NUUS - Twee sekerheidswagte is gister by persele wat deur Metro City Protection Services (MCPS) beveilig word, gearresteer omdat hulle nie geregistreer is nie.
Volgens sers. Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie is ‘n 42-jarige en 22-jarige sekerheidswag gearresteer omdat hulle sekuriteitswerk verrrig het sonder die nodige sertifikasie.
“Ons kan bevestig dat 2 sekuriteitsbeamptes gearresteer is, 42 jaar en 22 jaar oud. Hulle is gister (5 Oktober) gearresteer onder die sekuriteit wet Sec 20, artikel 56 van 2001, nadat hulle sekuriteitsdienste verrig het en nie geregistreer was nie,” het sy vanoggend in ‘n verklaring gesê.
Die twee mans is op waarskuwing vrygelaat om môre in die hof te verskyn.
Dit blyk dat amptenare van PSIRA (Private Security Industry Regulatory Authority) verskeie plekke besoek het en sekerheidswagte se registrasiesdokumente nagegaan het.
MCPS is deur die munisipaliteit aangestel om munisipale persele in die Groter Oudtshoorn te beveilig.
Die bevelbvoerder van MCPS in Oudtshoorn, brig George Solomons, het vanoggend gesê hy het nog geen besonderhede oor die arrestasies ontvang nie en hy is glo nog nie genader vir enige inligting nie.
Volgens hom moet alle persone wat by hulle aansoek doen om werk, in besit wees van die nodige PSIRA-registrasie.
Volgens hom weet hy wie die een persoon is wat gearresteer is, maar dra hy nie kennis van die ander persoon nie. “Ek het maar net gehoor PSIRA is hier in die dorp, maar hulle het nog glad nie met my kontak gemaak nie, en ek weet ook nie wie die mans gearresteer het nie.”
‘n Navraag oor die voorwaardes waaronder MCPS deur die munisipaliteit aangestel is, is vanoggend aan die munisipaliteit gestuur.
Die kontrak wat met die maatskappy aangegaan is, is een van die kwessies wat genoem word in die Webber Wentzel-verslag wat tans deur die stadsraad ondersoek word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'