OUDTSHOORN NUUS - 'n Kernpunt rondom die bedanking van Colan Sylvester as burgemeester van Oudtshoorn is die veelbesproke verslag oor die munisipale bestuurder, Allan Paulse, wat deur die regsfirma Webber Wentzel opgestel is.
Twee volumes van die verslag is tans vrygestel. Die eerste volume is aan die raad voorgelê en aan die Oudtshoorn Courant beskikbaar gestel.
Die tweede volume is nog nie voor die raad ter tafel gelê nie en die media het nog nie insae daarin nie. Die koste van die verslag wat sewe ondersoeke behels, beloop R2 284 834. Daar word telkens op sosiale media verwys na die "forensiese verslag", maar Webber Wentzel stel dit in die verslag duidelik dat hierdie nie 'n forensiese verslag is nie.
Dis 'n verslag wat hulle opgestel het aan die hand van klagtes teen die munisipale bestuurder wat hulle ondersoek het en in die verslag gee hulle hul bevindinge en aanbevelings. 'n Verdere kwessie wat die saak bemoeilik is dat daar uitdruklik in die verslag gesê word dat dit vertroulike inligting bevat en dat geen deel daarvan sonder skriftelike toestemming van Webber Wentzel gepubliseer mag word nie.
Dit is nie bekend of gedeeltes wat reeds op sosiale media verskyn het met hulle goedkeuring geplaas is nie.
Volume een van die verslag handel oor aantygings teen die munisipale bestuurder ten opsigte van besluite wat gemaak is oor onder andere die goedkeuring van die tender van Metro City Protection Services wie se tender bykans R20 miljoen minder was as die naaste ander tender. Besluite rondom die Blossoms-waterprojek word bevraagteken maar die verslag wys ook daarop dat hierdie projek reeds 20 jaar gelede begin het, lank voor die huidige munisipale bestuurder se termyn 'n aanvang geneem het.
Afwykings van voorgeskrewe riglyne vir uitgawes asook 'n aanstelling in een van die direkteursposte is ook deel van die ondersoek.
Aan die einde van die verslag beveel Webber Wentzel aan dat die prosedures wat gevolg is, deur die waarnemende munisipale bestuurder aan die raad voorgelê word en dat die raad moet besluit hoe die kwessies aangespreek moet word waar die ondersoek bevind het dat daar moontlike ongerymdhede kon wees.
Daar word ook duidelik gestel dat die verslag opgestel is slegs aan die hand van dokumente wat deur die klaers voorgelê is en dat onderhoude ook slegs met hulle gevoer is, maar dat die munisipale bestuurder nog geleentheid gegun moet word om op die verslag te reageer aangesien hy nie tydens die ondersoek geraadpleeg is nie. In 'n telefonies gesprek het Pualse bevestig dat hy nou geleentheid het om die verslag te bestudeer en te reageer. Een van die ondernemings in die verslag is dat dit aangepas sal word indien enige inlgiting wat voorgelê is as foutief uitgewys word.
Die tweede volume, wat nog nie aan die media beskikbaar gestel is nie, handel oor die beweerde betrokkenheid van amptenare by die DA se ondersoek en tugverhoor van die burgemeester. Dit blyk dat hierdie deel van die verslag voor die raad ter tafel gelê moes word, maar dat dit nog nie plaasgevind het nie.
Gemoedere oor die hele kwessie van die burgemeester se bedanking en die ondersoek teen die munisipale bestuurder loop tans hoog. Verskeie groepe is reeds op sosiale media gestig waar inwoners hulle menings lug en daar word selfs 'n stemopname versprei van 'n vergadering in Desember waartydens Anton Bredell, minister van plaaslike regering, raadslede toespreek oor die moontlikheid om Oudtshoorn onder administrasie te plaas sodat die burgemeester, die raad en die munisipale bestuurder kan voortgaan om die dorp te dien.
Die opname het hewige reaksie van verskeie raadslede en politieke partye ontlok.
Die plofbare kwessie onderstreep een van die bevindinge wat in die Webber Wentzel-verslag genoem word, naamlik dat die vertrouensbreuk tussen die burgemeester en die munisipale bestuurder moontlik onomkeerbaar blyk te wees en dat die raad moet besluit of die verhouding herstel kan word.
Hierdie aanbeveling is egter nie meer van toepassing nie aangesien Sylvester nie meer die burgemeester is nie en 'n nuwe een aangewys moet word.
'n Navraag oor die stemopname wat rondgestuur word is Dinsdag aan Bredell gestuur en 'n navraag is ook aan die speaker, Julia le Roux, gestuur om te verneem waarom volume twee van die ondersoek nie voor die raad gedien het nie.
Allan Paulse, Oudtshoorn se munisipale bestuurder wat tans op verpligte betaalde verlof is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'